Rooi ligte flikker vir gevaarlike R43

’n Tikkende tydbom. Só beskryf inwoners van Hawston die situasie waar talle voetgangers daagliks die R43 moet oorsteek sonder die voordeel van padveiligheids­maatreëls soos ’n voetoorgang of verkeersligte. Verskeie inwoners […]


’n Tikkende tydbom.

Só beskryf inwoners van Hawston die situasie waar talle voetgangers daagliks die R43 moet oorsteek sonder die voordeel van padveiligheids­maatreëls soos ’n voetoorgang of verkeersligte.

Verskeie inwoners het die afgelope week hul kommer oor die situasie op sosiale media gedeel. Die ANC-LP Maurencia Gillion, voorsitter van die gekose komitee vir gesondheid en welsyndienste en ’n boorling van Hawston, het ook haar stem dik gemaak in ’n brief aan Coenie Groenewald, Overstrand se munisipale bestuurder. Dié brief is ook op sosiale media gedeel.

In die brief noem Gillion dat die veiligheid van voetgangers wat die R43 moet oorsteek, byna 10 jaar gelede reeds in die beplanningsfases van die nuwe behuisingsprojek, noord van die R43, beklemtoon is.

Die brief lui verder: “Dit is met groot hartseer dat ons die gevaar aanskou waaraan ons mense blootgestel word weens die tekort aan veiligheids­maat­reëls op die R43. Voetgangers sowel as motoriste verkeer in gevaar. Ek verstaan dat die pad onder die jurisdiksie van die Wes-Kaapse regering is, maar dit vrywaar julle nie van jul verantwoordelikheid nie.”

In haar skrywe vra Gillion dat die munisipaliteit onder meer die padveiligheidsplan vir Hawston en die tydraamwerk vir die implementering hiervan sowel as die moontlikheid daarvan om die spoedbeperking na 60 km/h te verlaag, moet ondersoek.

Beplande opgraderings

Volgens Griffon Damon stel ’n nuusbrief op die munisipaliteit se webblad (gedateer 9 Julie 2019) dit duidelik dat die oorhandiging van die huise onderhewig is aan die oprigting van verkeersligte by die padkruising van George Viljoenstraat en die R43 om sodoende die veiligheid van die inwoners wat die pad moet oorsteek om skole, kerke, winkels en ander fasiliteite aan die ander kant van die besige pad te bereik, te verseker.

Damon en Herschell Burns, albei lede van die junior stadsraad, sê hulle het besluit om vergaderings met die onderburgemeester en ander amptenare te reël omdat dié kwessie daadwerklik aandag nodig het om ’n tragedie te voorkom. Lede van die gemeenskap het die twee jong mans geprys vir die inisiatief wat hulle geneem het om die vergaderings te belê.

“Dit gaan nie oor politiek of aansien nie – dit gaan oor die inwoners se veiligheid,” het albei gesê.

Elnora Gillion, die onderburgemeester, het Maandag op die vergadering by die nuwe behuisingsprojek aan inwoners verduidelik dat die vandalisering van huise wat leeg gestaan het, die munisipaliteit genoop het om liewer die huise aan begunstigdes te oorhandig hoewel die nodige padveiligheidsmaatreëls nog nie ingestel is nie.

Muneera Allie, ’n woordvoerder van die provinsiale departement van behuising, het dit beaam en bygevoeg: “Beplanning om die pad op te gradeer, was ingesluit by die beplanning vir die ontwikkeling. Die Overstrand-munisipaliteit het in 2019 ’n aansoek om die opgradering van die pad by die departement van openbare werke en vervoer ingedien. Die opgradering sal deur die Wes-Kaapse departement van behuising gefinansier word en sal begin sodra al die nodige goedkeuring van die departement van openbare werke en vervoer verkry is. Dié proses is tans aan die gang. Om uitdagings van vandalisering van huise wat leegstaan te bekamp, is eenhede in die tussentyd aan die begunstigdes oorhandig.”

Volgens Allie is bane om aan albei kante van die pad links en regs te draai, ’n eiland en ’n voetoorgang deel van die beplande opgradering aan die pad.

“Die koste van die beplande opgradering sal na raming R3 592 302 wees,” het sy gesê.

Op die vraag of die nodige veiligheidsmaatreëls ingestel sal wees voordat nog begunstigdes van die behuisingsprojek hul intrek in die huise teenaan die R43 sal neem, was die departement vaag.

“Die pad se opgradering sal begin sodra goedkeuring van die departement van openbare werke en vervoer ontvang is.”

Die departement van openbare werke en vervoer het teen druktyd nog nie op navrae gereageer nie.

Tydelike oplossings

Die onderburgemeester het gemeenskapslede gerus gestel dat verkeersbeamptes soggens tussen 07:00 en 08:00 en smiddae tussen 13:00 en 14:30 langs die R43 diens sal doen om te help verseker dat veral jonger skoolkinders die pad veilig oorsteek.

Sy het egter daarop gewys dat dié tydelike maatreël ook ’n mate van gevaar inhou.

“Superintendent Xen Titus van die verkeersafdeling het op die vergadering uitgewys dat dit moeilik sal wees om voertuie op die stuk pad tot stilstand te bring, aangesien die spoedgrens 80 km/h is. Aansoek is gedoen om die spoedgrens na 60 km/h te verlaag en ons wag tans op goedkeuring van die provinsiale departement om dit te implementeer,” het sy verduidelik.

Ouers is aangemoedig om toe te sien dat hul kinders net die pad oorsteek waar verkeersbeamptes aan diens is om hulle oor te help.

Maurencia Gillion sê sy is gerusgestel deur dié tydelike maatreël, maar dit los nie die kwessie op van byvoorbeeld mense in rolstoele wat ook die besige pad moet oorsteek nie.

“Mense in rolstoele moet steeds die pad oorsteek om die kliniek, Vereniging van Mense met Gestremdhede (APD) se kantoor en die werkswinkel by Ability House te besoek. En wat van naweke wanneer die verkeersbeamptes nie daar diens doen nie? Wie gaan dan die verantwoordelikheid neem as een van hulle deur ’n voertuig raakgery word?” het sy gevra.

Die onderburgemeester het ook versoek dat inwoners hul griewe en oplossings op skrif stel sodat sy dit volgende week tydens die besoek van Bonginkosi Madikizela, die Wes-Kaapse minister van openbare werke en vervoer, aan hom kan oorhandig. Die minister se besoek is deel van ’n uitgebreide veldtog om die hoë sterf­tesy­fer op munisipale paaie die hoof te bied.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.