De Necker van Schalkwyk se familie het ’n kruis opgerig en blomme gelê op die plek waar sy lyk ’n jaar gelede gevind is.


Die verhoor van Sandile Lumatha, wat aangekla is van die moord op De Necker van Schalkwyk in Oktober 2023 op Rotaryweg, sal op 30 Januarie 2025 begin.

Dié aankondiging is Vrydag 18 Oktober – presies een jaar en een week ná Van Schalkwyk se moord – in die Hermanus-streekhof gedoen.

Die aankondiging dat haar seun se vermeende moordenaar se verhoor binne enkele maande sal begin, is egter skrale troos vir Adri de Necker.

Adri en haar oudste seun, Christi, was twee weke gelede in Hermanus om op 10 Oktober, presies ’n jaar sedert De Necker se dood, ’n kruis op te rig en blomme te lê langs die paadjie waar sy lyk gevind is. ’n Bank met ’n gedenkplaat ter herinnering aan De Necker is op die berg opgerig.

Dié gebeurtenis, sê sy, was baie emosioneel. “Dit was hartverskeurend om Christi (sy ouboet) se gesig te sien; dit was die eerste keer dat hy op die plek gestaan het waar De Necker sy laaste asem uitgeblaas het.”

In die jaar sedert haar seun se sinnelose dood, sê Adri, het hulle ondersteuning gekry van mense van wie hulle dit nooit verwag het nie, terwyl hulle verwerping ervaar het van mense van wie hulle wel ondersteuning verwag het.

“Ons moes ook toekyk hoe mense van wie ons bystand verwag het, die rug op ons en ook op De Necker se nagedagtenis gekeer het… en ons het bitterheid, haat en verraad eerstehands leer ken.

“Maar die oomblik toe ek van die herinneringsbankie wat ons tot sy nagedagtenis laat oprig het, oor die vallei gekyk het, het ons vrede gevoel.

“My seun se siel is vry, die ‘kettings’ is los en hy het geen deel meer aan hierdie seer nie. Die heel belangrikste waarmee ek, Christi en hul pa kon vrede maak, is die gedagte dat De Necker nie die somtotaal van die afgelope 12 maande of die laaste drie jaar is nie… My kind en Christi se boetie is die somtotaal van ’n ongelooflike, deernisvolle, omgeeens van 28 jaar! En elke oomblik daarvan sal ons met dankbaarheid en trots onthou en koester.

“Die hofsaak het sy krag op 10 Oktober 2024 vir my en Christi verloor – geen uitspraak kan my kind se dood regverdig of sy lewe onbelangrik maak nie,” het Adri bedroef gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.