Twee verdagtes, onderskeidelik 18 en 23 jaar oud, het Maandag op aanklagte van moord, poging tot moord en roof by ’n sakeonderneming, in die Bredasdorp-landdroshof verskyn.

Dit spruit uit ’n voorval op 29 Oktober toe twee mans dié Saterdag na bewering ’n spazawinkel in die Zwelitsha- informele nedersetting in Bredasdorp beroof het.

AO Jakobus Marthinus, ’n woordvoerder van die Bredasdorp-polisie, het bevestig dat die polisie verlede Saterdag omstreeks 20:15 na die toneel by die Xolelwa-spazawinkel ontbied is.

“Die beamptes is ingelig dat twee mans die winkel binnegegaan en die kassier met ’n vuurwapen gedreig het,” het Marthinus gesê. “Die kassier se broer het op daardie tydstip uit ’n ander kamer gekom. Die verdagte het twee skote op hom gevuur.

“Toe die kassier een van die verdagtes gryp, het hy ook ’n ligte wond aan die kop opgedoen,” sê Marthinus.

Albei slagoffers is na die Otto du Plessis-hospitaal geneem.

Die broer wat skietwonde opgedoen het, is weens die erns van sy beserings na die Worcester-hospitaal oorgeplaas.

Hy is later dood.

“Die verdagtes is Donderdag 3 November in hegtenis geneem nadat die klaer hulle aan die polisie uitgewys het,” sê Marthinus. “Die ondersoek duur voort.”

You need to be Logged In to leave a comment.