Lionel Cornelius is Sondag op die gholfbaan oorlede.


Rugbyliefhebbers is geskok oor die skielike dood van Lionel Cornelius van Bredasdorp.

Dié geliefde inwoner is Sondag (8 Januarie) in die ouderdom 37 op die gholfbaan aan ’n hartaanval oorlede. Lionel, wat die aanvalsafrigter van die Boland-rugbyspan was, was baie geliefd – nie net onder die spelers nie, maar ook onder sy kollegas en Boland-ondersteuners. Lionel sal veral onthou word vir sy baanbrekerswerk op die rugbyveld.

Marquine Lukas van die Atlantics-rugbyklub, wat nie net saam met hom by die Boland-rugbyunie betrokke was nie, maar ook ’n goeie vriend van die oorledene was, sê: “Nooit sou ek kon dink Kersfees 2022 sou ons laaste groet wees nie; soveel vrae sonder antwoorde .?.?. 

“Saam kon ons rugby, krieket en gholf speel, en as ons saam kon hokkie, netbal of wat ook al ’n bal het gespeel het, sou ons dit ook gedoen het. Hy het altyd daardie X-faktor gehad. Indien dinge op die rugbyveld sou swaar gaan, sou ons altyd kon verwag dat hy met iets spesiaal na vore sal kom, al was dit ’n skepskop – sy linkervoet was dodelik wanneer ons dit nodig gehad het. Hy was absoluut legendaries in alles wat hy aangepak het en wanneer hy die kriekethelm op sy kop gesit het, het ek altyd geweet hy gee sy alles – ’n 50 of ’n 100 was altyd ’n moontlikheid,” het Marquine gesê.

In ’n boodskap aan Lionel het hy gesê: “2023 was die jaar wat jy jou deurbraak in rugby wou maak. Jy was so opgewonde oor alles wat jy aanpak en almal kon dit aanvoel. My liewe Lionel, vandag is steeds onwerklik hartseer, jou toewyding om altyd ’n mensemens te wees sal vir ewig in my hart bly staan – tot ons eendag weer ontmoet.”

Huldeblyke het ook op Facebook ingestroom. Ivanor da Kosta sê: “Ek wens woorde kan soos goue olie oor julle rou wonde loop en al die seer wegneem, maar woorde is net woorde en daarom eerder ’n gebed dat die Here julle sal toevou met Sy ontsagwekkende genade en liefde. Mag Hy, die outeur van die lewe wat ons lewensasem in Sy hand hou, julle vul met Sy nabyheid, wysheid en troos. Die leemte wat jy agterlaat is groot, Lionel, en jou sprankelende geaardheid sal gewis gemis word.”

Die Bredasdorpse Rangers-rugbyklub, waar Lionel ook ’n afrigter was, skryf: “Ons betuig op hierdie wyse ons innige meegevoel met sy vrou en kinders, sy ouers en sy breë familie. Dis ’n reuseverlies in ons vriendskapskring, maar ’n groter verlies vir die sport rugby waarvoor hy so lief was en besig was om die leer in afrigting vinnig te klim.”

Lionel laat sy vrou en twee kinders agter. Lionel word Saterdag 14 Januarie om 10:00 uit die Church of The Holy Spirit in Bredasdorp begrawe. 

You need to be Logged In to leave a comment.