Dit het 11 Junie 1972 gebeur. Die gemeenskappe van Mount Pleasant en Hawston was in rou gedompel toe 53 mense gesterf het nadat die bus waarin hulle was, van die Paarl af terug Mount Pleasant toe oor ’n brugreëling gestort en in die Riviersonderendrivier buite Villiersdorp beland het.
Vanjaar, tydens die 50ste herdenking van die busramp en ’n spesiale gedenkdiens wat deur die Atlantics-rugbyklub gehou is, het die Overstrand-burgemeester, dr. Annelie Rabie, gesê sy neem David Coert se wens ter harte dat ’n spesiale herdenkingstoernooi tussen Paarl Rangers en Atlantics gehou moet word. Rabie het ook onderneem om die reiskostes te dek en die beker te skenk.
Dié toernooi het die afgelope naweek op Atlantics se sportterrein plaasgevind. Die atmosfeer was feestelik met sewes-wedstryde en die hoofwedstryd tussen Atlantics en Rangers.
Die spanne wat in die seweswedstryde deelgeneem het, was Helderberg, Atlantics, Young Flowers Villiersdorp, Rasta Rebels en die Villiersdorp-rugbyklub. Die Rasta Rebels het die eindstryd teen Villiersdorp-rugbyklub maklik en oortuigend 31-5 gewen.
Die hoofwedstryd tussen Atlantics en Paarl Rangers was ’n klipharde stryd en is gekenmerk deur goeie skouspelagtige rugby van albei spanne. Dit was jammer dat daar ’n wenner moes wees, maar aan die einde van die dag het Rangers die wedstryd 30-17 gewen.
Volgens die organiseerder, Marquine Lukas, was dit ’n baie suksesvolle dag. “Die 50-jaar-gedenkwedstryd tussen die eerste spanne van Atlantics en Paarl Rangers was die wedstryd van die dag. Die wedstryd het wipplank gery met die Paarl Rangers wat halftyd 10-5 voorgeloop het,” het Lukas gesê.
In die tweede helfte het Paarl Rangers die voordeel in die vaste fasette met sy swaarder voorspelers gehad. Atlantics het moedig probeer, maar uiteindelik het Rangers die stryd gewen.
“Ons is dankbaar vir die dag en dit is vir my ’n plesier om te sê die opkoms was baie goed en rugby was aan die einde van die dag die wenner. Ons moet steeds onthou waaroor die dag gegaan het en ons dink aan die families van die slagoffers van die busramp in 1972,” het Lukas gesê.
“Hierdie wedstryd gaan nou jaarliks plaasvind met Atlantics wat volgende jaar Paarl Rangers besoek. Ons sien gewis daarna uit om bande met Paarl Rangers te bou – veral weens die tragedie van 50 jaar gelede”.. Die klub wil veral die burgemeester, dr. Annelie Rabie, en die raadslid Ronald Nutt, wat hierdie gedenkwedstryd moontlik gemaak het, bedank.