Lede en ondersteuners van Safcol-rugbyklub het self ingespring om iets aan die Hoërskool Grabouw se rugbyveld te doen.


Nadat Grabouw-rugbyklub Saterdag ’n vriendskaplike wedstryd op die Hoërskool Grabouw se rugbyveld gespeel het, was die gort behoorlik gaar.

Inwoners het hulle na Hermanus Times en Facebook gewend oor die toestand van die grond. ’n Gemeenskapsleier het die skuld vir die toestand van die Hoërskool Grabouw se rugbyveld voor die deur van die Theewaterskloof-munisipaliteit gelê. Volgens dié leier, wat anoniem wil bly, is dit skokkend dat niemand na die een veld wat nog speelbaar is, omsien nie.

“Die besoekers wat Saterdag hier was, was almal verstom oor die toestand van die veld. Nie net is die veld droog nie, maar daar is gate op die veld en die veld is vol molshope. Ek het as leier en ondersteuner my kop in skaamte laat sak.”

Op Facebook het mense ook gevra waarom die TWK R2,1 miljoen betaal om die dorp skoon te kry, “maar die sportterrein lyk soos die hond se . . . Hulle kon die sportgeriewe opknap eerder as om mense te kry om die dorp skoon te maak. Hoërskool Grabouw gebruik nie meer die sportgeriewe nie, sekerlik het Theewaterskloof-munisipaliteit die nodige hulpbronne sodat die veld van die hoërskool na die munisipaliteit oorgedra kan word,” was van die kommentaar.

Daar was ook sprake dat ’n groot bedrag geld uitgesit is vir die opknapping van Pineview-stadion, maar tot op hede is almal stil daaroor.

Volgens ’n woordvoerder van die munisipaliteit is gesprekke oor die sportgeriewe tans aan die gang.

“Die gesprekke is sensitief omdat dit baie gemeenskappe raak en die owerheid gaan nie in dié stadium kommentaar daaroor lewer nie,” het die woordvoerder gesê.

Intussen het lede en ondersteuners van Safcol-rugbyklub in Grabouw Sondagaand kunsmis op die veld gaan strooi met die hoop dat die gemeenskap sal saamstaan om die rugbyveld speelbaar te kry.

“Ons hoop dat ander ons voorbeeld sal volg en ook iets aan die veld sal doen,” het hulle gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.