Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) het onlangs ’n lynregterskliniek in Kleinmond gehou in ’n poging om meer lynregters vir die plaaslike Safa-toernooie te kry.
Dié kliniek is op 15 Januarie in Kleinmond aangebied met Aaron van Schalkwyk, die ontwikkelingsbeampte van Safa-Overberg se skeidsregtersafdeling, aan die stuur.
“Ons het in Safa-Overberg ’n tekort aan lynregters. Dit is waarom ons besluit het om nuwe lynregters, wat Safa-geakrediteer is, op te lei. Ons wil hulle in ons ligas integreer,” sê Van Schalkwyk.
Van die lynregters, wat by die kliniek opgelei is, het Sondag (16 Januarie) in hul eerste wedstryde as lynregters opgetree.
“Ons doelwit vir die lynregters is om hul vlak een- en twee-eksamens te voltooi sodat hulle as skeidsregters opgelei kan word. Al is al die jong manne en vroue nou opgeleide lynregters, is lyn- en skeidsregtersposte steeds beskikbaar.
“Belangstellendes, wat opgelei wil word as ’n lyn- en skeidsregter, kan my by 083 663 2309 bel. Ek wil ook borge en sakeondernemings vra om my te skakel indien hulle kan help om fluitjies en vlae vir ons plaaslike sokkerspanne te borg.”