Safcol gemaklik deur

Met meer as 200 klubrugbyspanne in die Boland is dit die plaaslike Grabouw-span, Safcol, wat sake Saterdag op die Boland-stadion in Wellington gaan uitspook in sy stryd om as die wenner van die Sanlam-Boland-Top-12 gekroon te word.


Met meer as 200 klubrugbyspanne in die Boland is dit die plaaslike Grabouw-span, Safcol, wat sake Saterdag op die Boland-stadion in Wellington gaan uitspook in sy stryd om as die wenner van die Sanlam-Boland-Top-12 gekroon te word.

Safcol het die melkboere van Darling Saterdag in die halfeindstryd 68-38 gewen om sy plek in die eindstryd te verseker terwyl Robertson Wesbank in die ander halfeindstryd net-net 32-29 gewen het.

As Saffies die komende naweek met die kroon wil wegstap, sal hy eers hard aan sy dissipline moet werk. Onnodige strafskoppe is in die eerste helfte afgestaan terwyl die slot Jade Muller in die 50ste minuut met ’n geelkaart afgestuur is omdat hy van die kant af in ’n losskrum ingekom het.

Safcol-ondersteuners, wat na die Boland-stadion opgeruk het, was baie bekommerd toe Darling binne die eerste vyf minute ’n drie aangeteken het. Dit was duidelik dat die melkboere se gevaarlike agterlyn die bal wou lug gee en hulle het telkemale deur Safcol se verdediging gebars.

Minute ná die drie van Darling het Safcol ook met ’n drie geantwoord en Connor Mahoney, wat gewoonlik heel­agter vir Safcol speel en Saterdag op vleuel uitgedraf het, het gewys waarom hy ’n speler is wat nie net deur sy teenstanders fyn dopgehou moet word nie, maar dalk deur die groter unies opgeraap gaan word. Dié blitsige vleuel het letterlik om die verdediging gehard­loop en die bal deur die agterlyn laat beweeg wat op ’n drie uitgeloop het.

Die wedstryd is gekenmerk deur ’n drieëfees van albei spanne, maar die drie van die wedstryd was vir seker dié van die stut Ralph Dwayi wat weggebreek en die bal vir die skrumskakel Juwayne Beukes gegee het. Safcol het agt drieë gedruk en die senter Heinrich Meintjies het die eerste keer agter die doellyn gekuier. Die kaptein en agsteman, Benjamin Dwayi, het ook gewys waarom hy so ’n belangrike speler is en het sy eie drie onder die pale gaan druk. Die ander driedrukkers was die vleuel Waden Nel, wat verlede jaar nog op die skoolbanke was, terwyl Cholen November, Fazley Vermeulen en Lehnrho Julies ook gedruk het. Julies se skopskoen was sekuur en hy het nie net met ’n pragtige skepskop geslaag nie, maar ook drie strafskoppe en agt doelskoppe deur die pale gejaag.

Volgens die bestuur van Safcol is hulle baie dankbaar vir al die ondersteuners wat van die begin af tot nou bankvas agter hulle gestaan het. “ ’n Deel van ons sukses is presies die ondersteuning wat ons van die Overberg-inwoners geniet – inwoners van nie net Grabouw nie, maar oor die hele Overberg heen. Ons hoop die ondersteu­ners gaan Saterdag na die Wellington-stadion opruk,” het hulle gesê.

Volgens Lucian Cupido, die MC van die Sanlam-Boland-top-12-toernooi, het die tyd aangebreek waar die nuwe Boland-klubrugbykampioen aangewys gaan word.

“Die Boland-rugbyunie se marathon-klubrugbyseisoen kom Saterdag tot ’n einde wanneer Safcol teen Robertson in die eindstryd te staan kom.

“Dit was ’n taai stryd. Safcol het Darling in die eerste halfeindstryd stukkend gehardloop terwyl Robertson in die doodsnikke Wesbank se doppie geklink het met ’n oorwinning van 32-29.

“Safcol (Overberg) en Robertson Town (Breëlangeberg) het onoorwonne deur die Sanlam-Boland-Top-12 gedans om hul plekke in die eindstryd te bespreek. Saterdag se wedstryd beloof om ’n titaniese stryd te wees met ’n nuwe Boland-klubrugbykampioen wat gekroon gaan word,” het hy gesê. . In die vroue-afdeling speel Central Wolves teen Walker Bay (Hermanus).

Die gemeenskapskild sal bepaal word tussen Green Leaves en Elim Blues terwyl Rawsonville en Touwpark sal meeding vir die Streekuitdaag-titel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.