Die span van die Safcol-rugbyklub in Grabouw het hom verlede jaar in die Grootuitdaag-reeks laat geld, en die spelers en bestuur se harde werk het vrugte afgewerp.
Safcol is as die promotorskeuse in Transnet se Super8-Paastoernooi ingesluit.
Volgens die organiseerders het hulle baie aansoeke ontvang en kyk hulle na die betrokkenheid van die spanne in hul gemeenskap om te kwalifiseer en deel van die toernooi te wees.
Die Transnet-Super8-Paastoernooi is die grootste amateur-rugbytoernooi in Suid-Afrika en lok spanne van oor Suid-Afrika heen. Die agt spanne wat vanjaar aan die Paastoernooi gaan deelneem, is Raiders van Gauteng, Crusaders (die Suidwestelike Distrikte-kampioen), Progress van die Oostelike Provinsie, Tygerberg, die verdedigende kampioen Roses United, Bella Vista, Safcol en die gasheer, Saldanha.
Nadat die Covid-19-pandemie die toernooi vroeër gekniehalter het, sien hulle weer uit na ’n toernooi waar toeskouers hul gunstelingspanne kan kom ondersteun. Die prysgeld is ook nie te versmaai nie.
Dimitri Jacobs, die voorsitter van die Safcol-rugbyklub, sê dit is vir hulle ’n eer en hulle sal hul alles gee. “Hierdie is ’n geskiedkundige oomblik vir die klub en die dorp. Dit is die grootste amateurtoernooi waaraan ons gaan deelneem, en dit gaan regstreeks uitgesaai word. Ons is as die ‘wild card’ ingesluit, en die hoofrede hiervoor is ons klub se betrokkenheid in die gemeenskap. Boonop het ons nie te sleg gevaar in die liga nie – ons het derde geëindig. Ons is besonder trots om deel van die toernooi te wees en werk hard agter die skerms om ons klub en ons dorp se naam trots te maak,” het hy gesê.
Die toernooi sal regstreeks op televisie uitgesaai word.