Hermanus Times het in 10 Augustus se uitgawe berig oor ’n Safe School Marshalls-projek wat van stapel gestuur gaan word. Opleiding vir dié projek is van 1-3 Augustus met groot welslae voltooi en 74 kandidate is opgelei.
Trevor Hermanus, voorsitter van die Overberg-polisiekluster se GPF, sê: “In samewerking met TWK, Solution Base, die polisie se Veilige Skole-afdeling en die Wes-Kaapse regering se Year Beyond-program, het ons hierdie 74 kandidate van Villiersdorp, Caledon, Genadendal en Riviersonderend nou as Safe School Marshalls opgelei. Hulle moet nie net skole beveilig en toesien dat leerders nie by dwelms en misdaad betrokke raak nie, maar ook leerkragte teen moontlike geweld beskerm en geboue beveilig.
“As deel van die opleiding moet hulle verstaan wat die Safe Schools-beleid behels en ’n veiligheidsplan vir elke skool opstel. Die Kinderwet word verduidelik sodat hulle weet wat kinders se regte is en krisishantering en slagofferondersteuning vorm ook deel van die kursus.”
Die beamptes sal vir ’n tydperk van ses maande vir twee dae per week by verskeie skole ontplooi word. Hulle ontvang ’n toelae, wat deur die Wes-Kaapse departement van sport en kultuur gefinansier word.