Saffies steeds op wenpad

Die koring is van die kaf geskei en hierdie Saterdag (25 November) is dit die vier beste spanne van die Sanlam-Boland-Top-12 wat sake op die Boland-stadion in Wellington gaan uitspook om hul plek in die eindstryd van hierdie gesogte kompetisie te ver


Die koring is van die kaf geskei en hierdie Saterdag (25 November) is dit die vier beste spanne van die Sanlam-Boland-Top-12 wat sake op die Boland-stadion in Wellington gaan uitspook om hul plek in die eindstryd van hierdie gesogte kompetisie te verseker.

Overberg se spogspan, Safcol, van Grabouw, is bo-aan die punteleer van Groep B. Safcol het Saterdag weer eens gewys waarom hy die wenner van die Saldanha-Paastoernooi was, wat vroeër vanjaar beslis is, na hy Saterdag (18 November) die span van Mamre 27-24 gewen het.

Die ander span van die Overberg, Hawston Skrik vir Niks, het Saldanha ook net-net 41-39 in Die Bos gewen, maar ongelukkig het Hawston nie na die halfeindstryd deurgedring nie aangesien hy derde in sy groep geëindig het.

“Die naelbyt-wedstryde wat ons in Sanlam-Boland-Top-12 beleef, is net weer ’n bewys hoe straf die kompetisie is en dat die rugbyspanne die reeks baie ernstig opneem. Elke speler speel vir sy span, streek en dorp en is trots om daardie trui oor sy kop te trek,” het ’n woordvoerder van Boland-rugbyunie gesê. Hy het verder beklemtoon nie een van die vier spanne – Darling, Safcol, Robertson en Wesbank – kan as gunstelinge om die toernooi te wen, aangewys word nie. “Die mededinging is baie straf en die punteverskil tussen die spanne is nie groot nie. Al vier die spanne speel op die oomblik kookwater-rugby en die spelers verbeter met elke wedstryd. Dit is ’n plesier om te sien hoe die spanne sowel as die spelers in die toernooi gegroei het,” het hy gesê.

Een só speler is die heelagter van Safcol, Connor Mahoney, wat ’n kontrak deur die Boland-Kavaliers aangebied is. Dié gevaarlike heelagter is nie net vinnig om deur sy teenstanders se verdediging te breek nie, maar sien ’n gaping vinnig raak en het al menigmaal oor die lengte van die veld gehardloop om ’n drie te gaan druk.

Hierdie naweek gaan Safcol dit teen Darling uitspook, terwyl Robertson teen Wesbank-rugbyklub gaan kragte meet.

“Ons glo dit gaan ’n moeilike wedstryd wees waar ons mekaar voor gaan aanvat aangesien Darling ook ’n span is wat nie gaan lê nie en speel totdat die eindfluitjie blaas,” het ’n Safcol-ondersteuner gesê.

Volgens die organiseerders van die toernooi en die Boland-rugbyunie sou dit nie so suksesvol gewees het sonder die hulp van die borge nie. “ ’n Groot dankie aan ’n ieder en ’n elk van die Sanlam-Boland-Top-12-borge en vennote wat dit moontlik maak dat die 2023-toernooi onvergeetlik is. Die talentvolle spelers in die Boland-klubrugbywêreld het ’n besonderse vyf weke ervaar,” het BRU op sy Facebookblad gedeel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.