Robertson Town, wat tans kookwaterrugby speel, se segetog in die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie duur voort nadat hy die afgelope Saterdag ook met Hawston op die Van Zylstraat-sportterrein klaargespeel het.
Robertson het ’n begeesterde Hawston ná ’n titaniese stryd 45-35 verslaan. Robertson het die besoekers van meet af aan onder groot druk geplaas en danksy goeie aanvallende spel twee keer gaan druk.
Hawston het hom nie laat afskrik van die tuisspan se vroeë voorsprong nie en het kort hierna met ’n drie deur Francois Geduld (agtsteman), wat deur Roland Swarts (losskakel) verdoel is, teruggeslaan om die telling 13-7 te maak. Hawston se veggees was indrukwekkend toe hy met mening begin aanval en die tuisspan se voorsprong met ’n onverdoelde drie deur Heinrich Robertson (plaasvervanger-losvoorspeler) so te sê uitgewis het om die telling 13-12 te maak.
Town het egter minute later sy geringe voorsprong weer vergroot met ’n drie deur die buitesenter, Jennewil April. Gurshwin Africa (skrumskakel) se doelskop was tussen die pale deur (20-12).
Hawston het voorts met groot passie gespeel en teen rustyd die voortou met 22-20 geneem. Ná rustyd het Swarts sy span se voorsprong met ’n suksesvolle strafdoel verder vergroot toe die telling na 25-20 vir Hawston aangeskuif het.
Die wedstryd het vir ’n rukkie wipplank gery, terwyl Robertson met meer dringendheid begin speel het.
Ná volgehoue druk in die besoekers se kwartgebied het Town weer sy neus voor gekry. Minute later is Robertson vir onkantspel gestraf en Hawston het met nog ’n strafdoel weer ’n keer verbygeskuif toe die telling 28-27 vir die besoekers geword het.
Robertson het ná briljante spel egter weer die voortou geneem en ’n pragdrie gaan druk, wat die telling na 37-28 vir Robertson laat groei het.
SVN het egter hierna vir die aanskoulikste drie van die dag gesorg. Die besoekers het ’n sterk aanslag van die tuisspan in sy eie kwartgebied afgeweer. Die bal het by ’n afbreekpunt losgespat en Ronaldo Isaacs (linkervleuel) het dit opgepik. Hy het feitlik oor die lengte van die veld genael en ondanks pogings om hom te stuit, ’n spogdrie onder die pale afgerond.
Die spanning was byna tasbaar toe Swarts seker maak van die doelskop om sy span se agterstand te verklein met die telling wat 37-35 geword het, met Robertson steeds ’n kortkop voor.
Die tuisspan het egter vasgebyt en kort daarna die wind uit die seemanne se seile gehaal toe Cheslin Arendse (plaasvervanger-heelagter) ’n onverdoelde drie gaan druk het. ’n Strafdoel minute later was die laaste spyker in Hawston se doodskis, want dit het die wedstryd met min speeltyd oor buite bereik van die besoekers geplaas.. Intussen bly Safcol van Grabouw op die wenpad nadat hy die span Bella Vista 23-17 geklop het en sy plek in die halfeindstryd verseker het.


