’n Safcol-speler hardloop sterk met die bal in die eindstryd van die Overberg-uitdaagrugbytoernooi wat op die Caledon-sportterrein beslis is. Safcol het Caledon 26-15 in die eindstryd geklop. Safcol het dié toernooi, wat in 2023 die eerste keer deur Nissen Holdings Edms.(Bpk.) aangebied is, die tweede jaar agtereenvolgens gewen. Foto: Norman Evertson


Die jaarlikse Overberg-uitdaagrugbytoernooi het Saterdag op die Caledon-sportterrein vir die tweede jaar plaasgevind.

Dié toernooi is in 2023 die eerste keer deur Nissen Holdings Edms. (Bpk.) aangebied. Die verdedigende Boland-grootuitdaagbekerklubkampioen, Safcol, wat die toernooi verlede jaar gewen het, het weer vanjaar met die louere weggestap nadat hy die gasheerspan van die toernooi, Caledon, in ’n taai eindstryd 26-15 die loef afgesteek het.

Caledon en Hawston het die aksie afgeskop toe hulle mekaar in die eerste uitspeelwedstryd van die dag gepak het. Caledon het teen die verwagting in met Hawston klaargespeel. Die telling was 23-19.

Hierna het Safcol en die Bredasdorp Rangers kragte gemeet. Die Boland-klubkampioen het Rangers maklik 37-12 geklop.

In nog ’n voorwedstryd het Riviersonderend en Kleinmond mekaar die stryd aangesê. In dié stryd was Riviersonderend 21-7 baas.

In die laaste wedstryd voor die eindstryd het Hawston en Bredasdorp Rangers om die derde en vierde plekke van die toernooi meegeding. Hawston het dié kragmeting 36-28 gewen.

’n Lastige wind wat oor die veld gewaai het, het spel vir al die spanne bemoeilik, terwyl ’n ligte reënbui tydens die eindstryd uitgesak het.. Die eerste ronde van die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagreeks begin Saterdag (2 Maart). Die spanne van die Overberg, wat dan teen mekaar gaan speel, is Safcol van Grabouw teen Villiersdorp; Hawston Skrik vir Niks teen Genadendal, Bredasdorp Rangers teen Riviersonderend, Caledon teen Black Leaves en Kleinmond teen Grabouw.

You need to be Logged In to leave a comment.