Drie veiligheidskameras én die Alfa-buurtwag hou nou ’n wakende oog oor Sandbaai.

AfriForum se Overstrand-tak het verlede week die eerste kamera hier laat monteer nadat drie kameras geskenk is met die spesifieke doel om Sandbaai se gemeenskap te beveilig.

AfriForum se Overstrand-tak het verlede week ingespring met die opstel van die nuwe kameras, wat nou sal inskakel by die buurtwag se reeds bestaande netwerk.

CU Live Security Solutions, ’n plaaslike private veiligheidsmaatskappy, wat nou saam met die Alfa-buurtwag werk, het ingestem om die kameras te moniteer.

Alfa-buurtwag sal as eerste reaksie dien op aktiwiteite wat deur dié kameras bespeur word.

Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, is misdaad ook in hierdie gemeenskap aan die toeneem.

Navorsing het reeds getoon dat veiligheidskameras ’n doeltreffende hulpmiddel in misdaadvoorkoming is, aangesien dit veral geleentheidsmisdadigers afskrik.

“Die gebruik van hierdie tegnologie sowel as hommeltuie gee aan AfriForum en die gemeenskap ’n waardevolle voorsprong in die bekamping van misdaad. Benewens die gebruik van tegnologie is AfriForum se verhoudinge met ander plaaslike rolspelers – insluitend private veiligheidsmaatskappye – ook van kritieke belang om veiligheidsdoelwitte te bereik,” aldus Benade.

“In die lig van die nuutste misdaadstatistieke is die Overstrand-tak vasbeslote om sy fokus op misdaadvoorkoming en veiligheid in 2024 uit te brei.

AfriForum sal ook aanstaande jaar op nasionale vlak ’n selfs groter fokus op die vestiging, versterking en uitbreiding van die organisasie se veiligheidstrukture plaas.

“AfriForum se Overstrand-tak en die Alfa-buurtwag speel ’n uiters belangrike rol in die gemeenskap en die beveiliging daarvan.

“Sonder die lede se patrollering en ondersteuning aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander veiligheidsmaatskappye sou die veiligheidsituasie in hierdie gemeenskap veel slegter daaraan toe gewees het.”

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Overstrand-tak en Alfa-buurtwag betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.