’n Inwoner van Sandbaai asook ? lid van die Whalers-atletiekklub het ’n 100km-wedloop om sy eie huis in een dag voltooi.

Johann Kotzé, het dié uitdaging aangepak en om 06:30 in sy eie huis se tuin weggespring om 100km te draf.

“As ’n lid van die Whalers-atletiekklub was ons almal besig om vir die Two Oceans- en Comrades-marathon voor te berei wat onderskeidelik in April en Junie sou plaasvind – toe word die inperking aangekondig.

“Die klub het elke Saterdagoggend ’n long-run ter voorbereiding van hierdie wedlope. Die eerste Saterdag van die inperking het ek besluit om sommer om die huis te draf om aan die gang te bly en ook my long-run in te kry,” sê Kotzé.

Hy noem hy het net daar en dan begin beplan om ’n 100km-uitdaging vir homself te stel.

“Ek by myself gedink dit sal nogal moeilik wees om ’n marathon om die huis te hardloop en beslis onmoontlik (vir my in elk geval) om 100km om die huis te hardloop.”

Hy het op 4 April vroeg weggespring met die 100km as die einddoel. Kotzé besluit toe om in ? sirkelroete om sy huis die 100km aan te vat.

“Ons erf is net so oor die 700m². Die ruimte om die huis was genoeg om redelik gemaklik te kon draf. Ek moes deur drie hekke gaan waar jy maar mooi moet kyk hoe en waar jy trap, anders kan ’n voet vashak en dan gaan jy taamlik hard grond toe. Ek moes 1 000 rondtes om die huis hardloop om by 100km uit te kom. Een rondte is 100 meter.”

Hy het die rigting waarin hy gehardloop het afgewissel na elke twee tot vier kilometers, dit het hom natuurlik ook gehelp met die dronk-in-die-kop-gevoel van al in die rondte hardloop.

Sy hele gesin het deur die loop van die dag vir hom ondersteun.

“My idee was dat dit net ’n rustige poging sou wees om te kyk of ek dit kon doen, maar almal wat my vrou Heidi ken weet dat sy ’n next level supporter is. Sy het ’n inperking- 100-banier geverf wat sy by die wegspring opgesit het. Sy het ook later die dag, soos dinge moeiliker geword het, A4-bladsye met motiveringsboodskappe (You got this en Vasbyt) op die roete uitgesit. Drink- en eetgoed was uitgesit op ‘n tafel en aangevul soos nodig. Sy het ook deur die dag hier en daar saam met my gehardloop vir ’n bietjie geselskap en in die laaste gedeelte sommer musiek gespeel terwyl sy saam draf. In totaal het sy 21km saam gedraf en dit net omdat sy wou,” sê hy.

Kotzé se seun, Michael, en sy dogter, Mechelle, het ook ingespring en ’n vuur aangesteek en begin braai om so ’n lekker atmosfeer te skep. Hulle het die laaste kilometer saam met hul pa gehardloop.

“My vrou het ook ’n medalje vir my uit papier gemaak en die kinders het ’n lint by die eindpunt gehou. Ek het om 06:30 weggespring en teen 20:15 klaargemaak in 13 uur 45 minute.”

Van die lede van die Whalers-klub het vir Kotzé ondersteun deur ’n skenking van R1 per rondte aan relieflife.org te maak.

Kotzé bedank almal vir hul ondersteuning.

You need to be Logged In to leave a comment.