Sasha Davids (11) verdrink in dam by Elim

’n Jong meisie van Elim is getraumatiseer gelaat nadat sy hulpeloos moes toekyk hoe haar niggie verdrink.


’n Jong meisie van Elim is getraumatiseer gelaat nadat sy hulpeloos moes toekyk hoe haar niggie verdrink.

Die twee kinders was volgens berigte Sondag 2 Januarie op die damwal besig om na musiek te luister en te dans toe die 11-jarige Sasha Davids gegly en in die dam beland het.

Volgens Wilney Gillion (27), Sasha se ouer suster, het Mischka Hans in die water gegaan om vir Sasha te probeer help.

“Die water was te diep. Sy het toe huis toe gehardloop om vir haar ma te vertel wat gebeur het. Haar ma het toe vir ons laat weet. Mischka het inmekaar gesak en moes hospitaal toe gevat word.”

Inwoners van die dorp het hulle gehaas na die dam en in die water gespring om haar te probeer red. Hul pogings was egter vergeefs en ’n familielid het haar lewelose liggaam later aan wal gebring. Die polisie, ambulansdienste en forensiese dienste was ook op die toneel.

Adjudant-offisier Jakobus Marthinus, Bredasdorp-polisie se woordvoerder, het bevestig dat die polisie voor 17:00 na die toneel ontbied is en ’n geregtelike doodsondersoek ingestel het.

“My ma was uitmekaar geskeur toe hulle haar aan wal bring. Alles het so onwerklik gevoel. Dit voel nou nog onwerklik, al het ons haar liggaam gesien en haar begrawe,” vertel Wilney.

Sy beskryf haar jonger sussie as ’n “baie lewenslustige kind” wat deel was van die skoolkoor, blokfluit gespeel het en graag aan skoonheidskompetisies deelgeneem het. “Sasha het presteer in atletiek en het gehou van musiek en dans. Sy was ook baie lief vir die natuur en sou sommer by die ou mense op die dorp gaan klop om met hulle te gesels of te vra of sy vir hulle iets kan doen.”

Mense het in groot getalle opgedaag om by ’n verbyry-gedenkdiens en die begrafnis hul laaste eer aan kleine Sasha te betoon.

Volgens Wilney het die werklikheid nog nie by hulle ingesink nie. Sy vertel: “Vir my ma voel dit asof Sasha net by ’n maatjie oorgeslaap het en later huis toe gaan kom. Sasha het ’n groot leemte in ons lewe gelaat wat nooit weer gevul sal kan word nie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.