Senior leer jonges oor gholf

Toe Graham Benjamin aftree en na sy tuisdorp – Hawston – terugkeer, het hy besluit om nie op die stoep te sit en sy aftrede te geniet nie, maar om iets vir die jeug van die dorp te doen.


Toe Graham Benjamin aftree en na sy tuisdorp – Hawston – terugkeer, het hy besluit om nie op die stoep te sit en sy aftrede te geniet nie, maar om iets vir die jeug van die dorp te doen.

Benjamin het ongeveer 40 jaar in Gauteng gewoon en gewerk en in sy vrye tyd by die Pebble Rock-buiteklub gholf vir ontspanning gespeel. Hy het drie jaar gelede Hawston toe getrek. Sy liefde vir ’n potjie gholf het hom geïnspireer om seuns en meisies van Hawston Primêr in dié sport af te rig.

“Ek wou iets doen om die kinders te uplift en uit die strate te hou,” vertel hy.

Ná ’n gesprek met Desmond Sauls oor die vooruitsig om kinders aan gholf bekend te stel en hulle af te rig, het dinge stadig maar seker begin. “Bertie Hofman en Jacques Beukes van The Pro Shop Hermanus het ook betrokke geraak,” vertel Benjamin.

Nadat hy die nodige toestemming van Hawston Primêr se waarnemende hoof, Japie Henn, gekry het, het Benjamin vroeër vanjaar die eerste gholf-kliniek by Hawston Primêr aangebied. Die kinders het ook by die Hermanus-gholfklub besoek afgelê en daar geoefen.

“Ons mik om een keer per week by die skool en Saterdae by die gholfklub te oefen,” sê Benjamin.

Hy rig tans ses meisies en 10 seuns af, maar droom daarvan om meer meisies by die gewilde spel betrokke te kry.

Hy doen ’n beroep op ander gholfspelers om die ontluikende jong spelers te help deur die nodige toerusting, insluitend stokke vir ’n meisie wat linkshandig is, aan hulle te skenk.

“Ek sou graag ook wou hê dat die kinders die korrekte kleredrag – gholfhempies met ’n kraag, netjiese kortbroeke met lussies vir ’n gordel, rompies of kortbroeke vir die meisies, chino-langbroeke en pette – moet dra.”

Enigeen wat die ontluikende groep jong gholfspelers kan help, kan Graham Benjamin by 061 814 0142 bel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.