Baie mense het in die Covid-19-pandemie en die inperkingstyd onaktief geword – veral in aftreeoorde, wat die swaarste getref is omdat kinders nie hul ouers kon besoek nie en bejaardes in hul kamers vasgevang was.
Vrywilligers van Solidariteit Helpende Hand het onlangs die Fynbospark-aftreeoord in Hermanus besoek om die inwoners daaraan te herinner hoe belangrik dit is om te beweeg.
“Helpende Hand het met navorsing geïdentifiseer dat eensaamheid ’n geweldige uitdaging vir senior burgers is en ons wil graag hierdie uitdaging op ’n volhoubare manier aanpak. Ons het toe hande met Senior Mind Moves gevat en die Seniors-in-aksie-program van stapel gestuur,” het een van die organiseerders gesê.
Die doel van die program is volgens Solidariteit om die senior burgers van hul potensiaal bewus te maak. “Dit is ontwikkel om eensaamheid by ons seniors te verlig en om hulle terselfdertyd te laat besef hulle vervul nog ’n baie groot rol in ons samelewing. Ons wil hul selfvertroue só weer opbou,” het die organiseerder gesê.
Sy het bygevoeg Helpende Hand poog om deur die lekker interaktiewe program seniors sover te kry om te beweeg, nie moedeloos te raak nie en beheer oor hul eie lewe terug te neem. . Stuur ’n e-pos-navraag na danee@helpendehand.co.za of alishe@helpendehand.co.za vir nog inligting of om betrokke te raak.