Ses studente van die Overstrand se studies het ’n hupstoot gekry nadat hulle beurse ontvang het. Die beurse is deur die plaaslike munisipaliteit beskikbaar gestel in samewerking met die provinsiale regering via die Provincial Treasury Department.
Dit word toegeken aan begunstigdes wat studeer in velde wat verband hou met plaaslike regering, onder meer finansies, ekonomie, boekhouding, voorraadbestuur, risikobestuur en infrastruktuur. Vier studente wat die vorige jaar finansiële steun ontvang het, het weer eens gekwalifiseer om vir beurse aansoek te doen.
Dié studente is Mia Burgess (Gansbaai), Renaldo Dickson (Stanford), Liam Africa (Hawston) en Kyle Philander (Mount Pleasant). Xanti Mgoqi en Ayakha Kamana, albei van Zwelihle, is die twee kandidate wat vir die eerste keer finansiële steun ontvang. Die beurse dek die studente se tersiêre registrasiefooie, kursusfooie en verblyf. Die doel van die beursprorgam, sê die munisipaliteit, is om finansiële steun te gee aan belowende studente wat op akademiese vlak uitblink, maar nie tersiêre studies kan bekostig nie.
Raadslid Arnie Africa, voorsitter van die burgemeesterskomitee se bestuursdienste, het die leerders aangemoedig om van dag een af skouer aan die wiel te sit en gedissiplineerd te bly. “Gebruik die opvoeding wat jy ontvang om jou drome te bewaarheid. Maar maak tyd om pret te hê en jouself te geniet,” het hy bygevoeg.