Klein Fabiano Theunissen kon sy negende verjaarsdag met oorgawe
vier nadat hy sy stryd teen kanker oorwin het.
Die lewenslustige klein seuntjie is 17 Februarie 2014 op
driejarige ouderdom gediagnoseer met Retinoblastoma – ’n rare vorm van
oogkanker wat hoofsaaklik jong kinders affekteer.
Volgens Paulette Fisher het sy vir die eerste keer vermoed iets is
fout met haar seuntjie se linkeroog toe sy op foto’s gesien het die oë se
kleure verskil. “In sommige foto’s was die regteroog rooi, soos mens soms op foto’s
sien, maar die linkeroog was geel,” verduidelik sy.
Na sy dokters raadpleeg het, is klein Fabiano verwys na Vergelegen
Medi-clinic waar dokters met behulp van toetse vasgestel het dat die driejarige
seuntjie oogkanker het.
Hy het tussen 2014 en 2015 bestraling ondergaan maar die
behandeling was onsuksesvol en sy oog moes in 2015 verwyder word om te voorkom
dat die kanker verder versprei.
“Dit was een van die moeilikste besluite van my lewe,” vertel
Paulette. “Dokters het verduidelik dat die kanker baie aggressief is en vinnig
versprei. Hulle moes die ogie verwyder om sy lewe te red.”
Fabiano het vinnig herstel en moes intensiewe terapie ondergaan om
te leer hoe om met net een oog oor die weg te kom.
Paulette, wat toe as ’n kelnerin gewerk het, sê sy moes baie uit
die werk bly wanneer Fabiano in die hospitaal was en elke ses maande vir
opvolgondersoeke moes gaan. Met Fabiano se oupa James Theunissen en hegte
vriende se ondersteuning, vertel Paulette, het hulle deur die “baie rowwe
tydperk” in hul lewens gekom.
Na jare van stres en kommer dat die kanker moontlik teruggekeer
het elke keer as klein Fabiano probleme met sy ogie ondervind het, het dokters
in Mei vir Paulette die fantastiese nuus gegee dat haar seuntjie nou heeltemal
kankervry is.
“Vir die eerste drie tot vier jaar was daar steeds die
moontlikheid dat die kanker kon terugkeer maar hy is nou heeltemal vry van die
kanker. Die gevoel toe ek die nuus kry is onbeskryflik, ek was só bly,” sê
Paulette.
Fabiano se oupa James wat haar steunpilaar deur die moeilike tye
was, sê Pauline, is kort na die goeie nuus oorlede. “Ons is net bly het nog
gelewe toe ons die goeie nuus kry want hy het altyd geglo Fabiano gaan fine
wees.”
Paulette hoop nou dat Fabiano se storie ander ouers kan moed gee.
“Hy is soos enige normale klein seuntjie, hy mag net nie
kontaksport doen nie,” vertel Paulette. “Ek wil graag hê ander mammas wat deur
’n moeilike tyd gaan moet hierdie storie lees en besef daar is altyd hoop. Die
Here sal nie iets op jou pad sit as Hy jou nie daardeur gaan dra nie.”