Sewejarige se lyk gevind nadat sy in Kleinmond verdrink

Kleinmond was die afgelope naweek in die nuus oor ‘n reeks verdrinkings.


Dit was ‘n swart naweek vir Kleinmond nadat daar twee
verdrinkings aangemeld is en een lyk uitgespoel het.

Teen Maandagmiddag was daar nog geen teken van die 17-jarige
seun en sewejarige meisie wat verdrink het nie, maar Hermanus Times is
ingelig dat die liggaam van die sewejarige meisie teen 18:30 Maandagaand gevind
is.

Sirenes het die stil dorp van Kleinmond Sondag tot stilstand
gebring en dit het op sosialemediaplatforms gegons oor die verdrinkings.

Die 17-jarige seun van Montagu was saam met ‘n skoolgroep die naweek in Kleinmond. Volgens Schalk Boonzaaier, NRSI-Kleinmond se stasiekommissaris, het hulle om
14:14 gereageer op ‘n verdrinking. “Sondag om 14:14 het die NSRI gereageer
nadat ‘n verdrinking by die hoofstrand aangemeld is. NSRI-Kleinmond,
NSRI-Hermanus, die polisie EMS en ‘n reddingshelikopter was op die toneel. Ons
swemspanne het ook na die seun gesoek,” vertel Boonzaaier. “Maar dit was
tevergeefs, teen Maandag is daar nog geen spoor van die seun nie”.

Terwyl die reddingspanne nog op soek was na die tiener, het NSRI
om 15:47 na die Palmietrivier gehaas waar ‘n sewejarige meisie saam met haar
sussie (10) geswem het en onder die water verdwyn het. Die 10-jarige sussie het
daarin geslaag om uit die water te kom en nooddienste was daar om haar by te
staan. “Die polisie se duikeenheid is ook ontplooi”.  

“Ons dink aan die families van die afgestorwenes,” het Boonzaaier
afgesluit.

‘n Inwoner wat met sy hond op Rooisand geloop het, het ook Sondag op ‘n
uitgespoelde lyk afgekom. Verlede week het daar ‘n duiker van Bettysbaai
verdrink en volgens bronne kan dit dalk die duiker wees aangesien sy lyk nog
nie gevind is nie. Die lyk moet ook eers formeel uitgeken word voordat dit kan
bevestig word dat dit die lyk van die vermiste duiker is.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.