Misdaadverslaggewer Julian Jansen se nuutste boek ondersoek die tragiese dood van ‘n 16-jarige leerling en die waarskuwingstekens wat geïgnoreer is.
In ‘n pragtige plattelandse dorpie het ‘n ondenkbare tragedie ontvou wat die hele land geruk het. Deveney Nel, ‘n talentvolle 16-jarige leerling aan die Hoërskool Overberg in Caledon, is op 7 Augustus 2024 op die skoolterrein vermoor – glo deur ‘n 17-jarige medeleerling.
Maar soos misdaadverslaggewer Julian Jansen in sy nuutste boek Die Moord op Deveney Nel ontbloot, was daar tekens wat vroeg geïgnoreer is. Die beskuldigde is reeds in Desember 2020, toe hy slegs 13 jaar oud en in die laerskool was, aangekla van die verkragting van ‘n 11-jarige dogter in Albertinia. Ongeag ‘n hofbevel dat hy in ‘n afwentelingsprogram geplaas word, het dit nooit gebeur nie.
Jansen, skrywer van topverkoperboeke soos Moord op Stellenbosch, het as misdaadverslaggewer vir ‘n Sondagkoerant van die begin af oor die saak geskryf. Hy benut sy uitgebreide kontakte binne die polisie, sowel as onderhoude met vriende en familie om die gebeure te rekonstrueer, en hiermee Deveney Nel te vereer.
Die boek, wat nou beskikbaar is by boekwinkels teen R280, stel moeilike vrae oor sistemiese mislukkings en is ‘n roep tot dringende hervormings om kinders te beskerm.
Jansen verduidelik in ‘n onderhoud hoekom die storie hom na aan die hart lê.

“Ons almal moet nou namens Deveney praat” – ‘n onderhoud met Julian Jansen
Hoekom het jy besluit om Deveney se verhaal te vertel?
Op versoek van Tafelberg Uitgewers was ek opgewonde en versigtig om die ontslape plattelandse leerling, Deveney Nel, se storie volledig te vertel, want daar is soveel emosie van verlies en hartseer, nie net in die gesinnetjie van ‘n enkelmoeder nie, maar die hele Overbergse gemeenskap, veral die skool op wie se terrein die 16-jarige dogter vermoor is.
Ek wou egter ook die verhaal van die 17-jarige (beweerde) oortreder, ‘n skoolmaat van Deveney, vertel en te kyk presies waar hy die pad liederlik byster geraak het.
Wat omtrent die spesifieke storie het jou antennas laat woel?
As oud-onderwyser wat groot deernis vir leerlinge en hul opvoeding het en hul soeke na ‘n gewaarborgde plek in die gemeenskap het, was die verlies van ‘n jong lewe vir myself ook ‘n emosionele saak: veral die feit dat sy glo deur ‘n medeleerling van dieselfde skool om die lewe gebring is en dit op ‘n terrein wat veiligheid vir alle leerlinge moet waarborg, was die storie nog terselfdertyd traumaties en kommerwekkend.
Neem ons bietjie deur jou skryfproses – dis nie ‘n maklike verhaal nie – was daar tye wat jy eers moes asem skep voor jy kon voortgaan met die skrywery?
Uit 18 jaar se ervaring as joernalis weet mens dit is nie maklik om families, wat pas in absolute rou gedompel is, vir kommentaar te nader nie. Mens het ook begrip dat Deveney se familie nie op hierdie stadium, indien ooit, met die media wou praat nie, dit na ons alles probeer het om hulle te oortuig. Dit moet mens absoluut respekteer.
Tragiese gebeure soos veral hierdie verhaal van Deveney het my as pa van twee seuns diep geslaan en mens het nagte gedink aan hoe soveel potensiaal en ‘n jong lewe uitgesnuif is.
Watter groot ontdekking het jy gemaak tydens jou navorsing?
Toe maak ons die skokontdekking: dat die einste beskuldigde in Desember 2020 aangekla is van die verkragting van ‘n 11-jarige dogter in Albertinia in die Suid-Kaap, toe hy slegs 13 en op laerskool was!
Toe mens dieper navraag doen, het daar groot leemtes en dus vraagtekens opgeskiet oor hoe die strafregstelsel en die gepaardgaande maatskaplike dienste die saak hanteer of moes hanteer het. Moontlike stelselfoute word deur die boek uitgelig: byvoorbeeld: toe die landdroshof beslis het dat die 13-jarige in ‘n afwentelingprogram geplaas word en dit nooit gebeur het nie.

Dink jy daar word genoeg gesprekke gevoer rondom die beskerming en geregtigheid vir kinderslagoffers?
Baie beslis nie. Dit is dan juis wat die boek poog om na vore te bring: dat alle relevante staatsdepartemente hand in eie boesem sal steek en eerlik sal erken dat daar kommunikasie-, administratiewe uitdagings in hul individuele stelsels mag wees en dat hulle strategie sal saamstel oor hoe om daardie “foute” reg te stel. Dat die beskuldigde deur die krake geval het.
Staatsdepartemente moet in sinergie werk, sodat hul kliente, in hierdie geval, kinders, se veiligheid, maar in hierdie geval, van die oortreder, aanspreeklikheid én verantwoordbaarheid, verseker kan word.
Hoe kan ons die soort gesprekke begin?
Simposiums, werkswinkels, raadsvergaderings en met uitgebreide publieke deelname en insette. Van ministeriële vlak tot gemeenskap en dit sluit skole en kerke in.
Die boek dwing ons om die moeilike vrae soos wie is verantwoordelik wanneer waarskuwingstekens geïgnoreer word? Hoe beskerm ons kinders se veiligheid in gebroke stelsels? En wat van Deveney se stem wat nou vir altyd stil is?
Wat is jou aanbevelings?
Die boek suggereer onder andere: spoor die potensiële misdadiger, hoe moeilik ook dit te blyk, vroeg op in die skolestesel en verwys hom of haar na gepaste programme.
Myns insiens en soos deur kenners in die boek beam word, behoort elke skool ‘n maatskaplike werker te hê. ‘n Gedagte: wat van afgetrede maatskaplike werkers in die gemeenskap by skole betrek?
Wat kan lesers verwag wanneer hulle die boek lees?
My hoop is dat die boek gelees sal word deur die gewone burger tot op ministersvlak, deur staatsaanklaers, kriminoloë, sielkundiges, maatskaplike werkers, onderwysers, mentors vir jongmense, ouers. In kort: almal van ons.
Die boek gee mens ‘n idee hoe die vurk in die hef steek of moet steek, wanneer dit by die beveiliging, maar ook die strafregtelike prosesse van jong oortreders kom. Die suksesvolle sosialisering en integrering van ons kinders tot veerkragtige volwassenes, vra dat gemeenskap dáár sal wees, indien ‘n kind fouteer, oortree en deur rehabilitasieprogramme terug in die gemeenskappe geplaas moet word.
‘n Gebroke kind kan, en ek glo dit, herstel word tot veerkragtige en meelewende burgers.
Hoekom was dit vir jou belangrik om die storie te vertel?
Die boek is my persoonlike bydrae tot gesprekke en aksies om die veiligheid van kinders, hetsy ook slagoffer en oortreder, te verseker.
It takes a village to raise a child en as daardie dorpie mag ons nie kinders faal nie. Sou dit wel gebeur het ons elkeen, van gewone burger tot minister, bloed op ons hande.
Ons almal moet nou namens Deveney praat, maar nie net sy alleen nie, want daar is honderde “Deveneys” in ons gemeenskappe, wat soos sy deur die staat en gemeenskap gefaal word. En dít moet elkeen van ons bekommerd laat, maar ook tot aksie aanspoor.






You must be logged in to post a comment.