’n Voertuig met meer as R80 000 se planke is deur beamptes van Overstrand-wetstoepassing se reaksie-eenheid aangekeer nadat die onderneming aangemeld het hulle het nie die betaling vir die materiaal ontvang nie.


Beweerde skelms het so byna met gesteelde goedere ter waarde van meer as R80 000 weggekom.

Die vinnige optrede van wetstoepassingsbeamptes van die Overstrand-munisipaliteit het egter daartoe gelei dat die verdagtes aangekeer en die goedere teruggevind is.

’n Woordvoerder van Davidsons Boards in Hermanus vertel hulle het verlede Maandag (25 Maart) die bestelling sowel as die bewys van betaling vir ’n groot besending dennehoutplanke ontvang.

’n Ligte vragmotor met ’n CAA-registrasienommer het die volgende oggend die planke opgelaai. Die onderneming het egter kort daarna ontdek dat die sogenaamde betaling nie in hul rekening reflekteer het nie.

“Ons het besef dis bedrog en het dadelik die polisie en beamptes van Overstrand-wetstoepassing gekontak om dit aan te meld,” het die woordvoerder verduidelik.

Die Overstrand-munisipaliteit se munisipale bestuurder, Dean O’Neill, sê lede van die reaksie-eenheid wat in daardie stadium na Grabouw onderweg was, het vinnig op die inligting gereageer en die voertuig met twee insittendes net voor Kromco, langs die N2 buite Grabouw, voorgekeer.

“Die boumateriaal ter waarde van R84 714,75 is teruggevind. Die twee verdagtes is aan die Grabouw-polisie oorhandig.”

Sers. Abigail Naidoo, ’n woordvoerder van die polisie in die Overberg-distrik, het bevestig twee verdagtes, onderskeidelik 25 en 36 jaar oud, is in hegtenis geneem.

“Die verdagtes het op aanklag van diefstal in die landdroshof verskyn,” het sy bygevoeg.

Davidsons Boards het die reaksie-eenheid se beamptes bedank vir hul flink optrede wat tot die herwinning van die gesteelde goedere gelei het.

Die Overstrand-onderburgemeester, Lindile Ntsabo, wat ook die burgemeesterskomiteelid vir beskermingsdienste is, was ook vol lof vir die beamptes. “Hul vinnige optrede het gekeer dat ’n onderneming in hierdie uiters uitdagende ekonomiese klimaat ’n groot verlies ly.”

You need to be Logged In to leave a comment.