Terwyl die wêreld gereed maak om Vrydag 14 Junie Wêreldbloedskenkerdag te vier, sluit die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKBD) met trots aan by die wêreldgemeenskap om vrywillige bloedskenkers deur die maand te eer.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het vanjaar se viering die tema “Vier 20 jaar van gee: dankie bloedskenkers” gegee, ’n getuienis van die verbintenis en vrygewigheid van bloedskenkers wat onbaatsugtig bloed skenk. Gedurende die maand poog die plaaslike bloeddiens om bewustheid oor die belangrikheid van vrywillige bloedskenking te verskerp en om die plaaslike superhelde wat lewens red deur die daad van bloedskenking in die kollig te plaas.
Hierdie Junie, onder die tema “Wees ’n plaaslike held, kom ons vier Nasionale Bloedskenkermaand!”, nooi die WKBD individue om hul innerlike held te omhels en lewens te red. As ’n teken van waardering sal elke skenking gedurende Junie ’n unieke paar held-geïnspireerde sokkies ontvang, wat die warmte en gemak simboliseer wat skenkers aan pasiënte in nood bied.
“Soos die winter sy greep verstewig, word dit uitdagend om ons vyf-dae bloedvoorraad te handhaaf,” verduidelik Marike Carli, openbare verhoudingsbestuurder vir die WKBD.
“Verkoues, griep en die kouer weer kan skenkeropkoms beïnvloed. Ons doen dus ’n beroep op ons gemeenskap van bloedskenkers om die helde binne hulle te ontketen aangesien een skenking tot drie lewens kan red.”
Vir meer inligting of om jou naaste bloedskenkkliniek te vind, besoek www.wcbs.org.za of laai die WKBD App af, of stuur ‘n WhatsApp-boodskap na 060 549 7244.