Sketse van Kenia – Van die Springbokke tot die Mau-Mau

Kenia is ‘n interessante, mooi, en wilde plek waar massas widebeeste wat migreer in hul duisentalle honger krokodille te prooi val.


Kenia. Die naam alleen roep beelde op van
uitgestrekte savannah-grasvlaktes, van wildtroppe so groot dat jy hulle nie kan
tel nie, van die skouspel van massas widebeeste wat migreer en in hul duisentalle
honger krokodille te prooi val. En jy dink onwillekeurig aan Karin Blixen en
haar plaas in Afrika, briljant vertolk deur Meryl Streep in die aangrypende
rolprent Out of Afrika, waar sy haar verhaal in haar hees, sielvolle stem
met die Deense aksent begin met die onvergeetlike strofe, “I had a farm in
Africa…”.

Ja Kenia, die land in sentraal Afrika,
tuiste van die robuuste Kikoejoe en die lenige 
Massai. Beeswêreld. Die land wat
ook deur Britse imperialisme gevat is en staangemaak is as nog ‘n juweel in die
koloniale kroon. Die grond en klimaat was geskik vir koffieverbouing. Die “White
Highlands” was  ‘n gesogte bestemming vir
‘n Engelsman wat wou wegkom uit Brittanje met sy inflasionêr-gestremde ekonomie en die koue en die ewige reën en die beknopheid. Kenia het ‘n fortuinsoeker alles gebied wat die
Britse eiland nie gehad het nie: ruimte, ‘n gesonde klimaat en bowenal,
sonskyn, sommer in oorvloed. Behalwe dat jy hartelus  kon jag maak op eksotiese diere, was daar
boonop volop  goedkoop arbeid vir jou
nuwe plaas.

In 1915 
maak 5 186 Britse setlaars hulself op die beste grond tuis. Maar lank
voor Kenia se amptelike kolonialisering in 1921, onder die beheer van  ‘n Britse goewerneur, was daar reeds ‘n
groepie Afrikaners gevestig, na-trekkers wat na die vernietigende Tweede
Vryheidsoorlog ‘n beter heenkome daar gaan soek het.  In Eldoret was daar  ‘n stewig-gevestigde Arikanergemeenskap, wat
met sukses daar geboer het –  ‘n taak
waarvoor hulle uitstekend toegerus was, want hulle het hul tande geslyp in die
ou Transvaal, wat nie ‘n plek vir ‘n swakkeling was nie. En ek kan sweer Karin
Blixen se plaasbestuurder was ‘n Boer…

Die volksheld Frik du Preez het, vreemd
soos dit mag klink, in Kenia rugby gespeel. Ja, die Springbokke het wêreldrugby vir dekades lank oorheers en drie wêreldbekers gewen, maar min mense weet dat hulle ‘n wedstryd in Kenia
gespeel het, in Nairobi, teen Oos-Afrika. Dit was in 1961, op pad terug van
hulle triomfantelike “Grand Slam” toer deur Brittanje, toe hulle al vier
tuisunies op ‘n streep afgeransel het. Daar kon net een wenner wees. Die
telbord het op 39-0 gaan vassteek… Frik het dié wedstryd, op 25 Februarie 1961, agsteman gespeel en die spanlys dui
aan dat ene H. Kruger van Eldoret sy direkte opponent was – so Afrikaans soos
wat jy wil hê! (1) En my buurman
op Suiderstrand, Wessel Steyn, gebore Keniaan wat hy is, onthou ook vir Fanie
Kruger van Eldoret soos gister.

Maar Kenia laat jou ook dink aan  ‘n donker tydperk in die land se geskiedenis.
Die tyd van die opstand en die Mau-Mau en Jomo Kenyatta. Groot getalle Britte
het reeds gedurende die Eerste Wêreldoorlog na
Kenia gestoom. Die kenmerke van die Britse kolonialiseringsbeleid het op ‘n
paar pilare gestaan: eerstens verower jy jou teikenprooi met alle middelle tot
jou beskikking, hetsy deur slinkse “diplomasie” of deur jou militêre vermoë.  Dan  verengels
jy die plaaslike bevolking en oortuig hulle dat jy eintlik hier is om die land
te ontwikkel en hulle te help. Dan laat jy hulle vir jou werk. En dan eksploiteer
jy jou nuutverworfde land se natuurlike hulpbronne. Kenia was geskik vir akkerbou.
Die wildlewe moes ‘n bloedige prys betaal onder die nuwe heerskappy met sy
dodelike wapens. Kenia gee geboorte aan die mite van “die groot wit jagter”,
soos wat Robert Ruark beskryf in sy treffferboek, Something of Value. Daar
is letterlik geslag onder die skynbaar onuitputlike wildbronne, veral op
grootwild soos leeus, olifante, renosters, luiperds en ander. Namate die Britte
hulle in die nuwe kolonie ingrawe , word die Keniane  se stamgronde verdring en hul natuurlike
weivelde vir enorme koffieplantasies gebruik. Ingevolge die Crown Lands
Ordinance Act word hulle as’t ware in “reservate” saamgehok. Hulle voel
toenemend soos vreemdelinge in hul eie land. Maar die Keniane is goed genoeg om
in The King’s African Rifles te dien – deels as Britse teenvoeter vir die
Duitse bedreiging in die aangrensende Duits-beheerde Tanjanika. Die plaaslike verset
neem al hoe vinniger toe:  Wie was
hierdie uitlanders per slot van rekening, hierdie bleekvelle wat hulle land kom
vat het en nou oor hulle regeer?

Daar was ‘n swart nasionalisme in die lug,
wat uitdrukking gevind het in die gees van Uhuru: vryheid. Die verpersoonliking
van Keniaanse nasionalisme was Jomo Kenyatta, ‘n indrukwekkende figuur, ‘n
natuurlike leier, onderwyser, goed opvoed, en met die deurpriemendste oë. Hulle vertel dat hy met ‘n soort magnetisme na jou kon staar, byna
soos Adolf Hitler. In sy toesprake bestempel 
hy die Britse koloniale beleid as fassisties, en vergelyk die
behandeling van swart mense deur Engeland met dié van die Jode in Nazi-Duitsland. Teenoor hom staan die Engelse
jingo’s met hulle teenargumente soos: “Ons bring die beskawing na Donker
Afrika. Sonder ons administrasie en beheer sal alles ten gronde gaan.” Of: “Ons
voed hulle op, bou vir hulle hospitale en skole en skep werk. Buitendien het
ons hier te doen met primitiewe mense wat nog geslagsverminking onder hul
meisies toepas.” (2)

Die lewe was goed vir die deursneë
Engelsman in Kenia. Hulle voer ‘n
leefstyl wat goed beskryf kan word deur die woord hedonisties. In teenstelling
met ‘n saai middelklas-bestaan in ‘n troostelose Engeland, is jy in Kenia feitlik
‘n feodale grondbaron met ‘n swetterjoel bediendes en ‘n oppasser vir elkeen
van jou kinders. Jy word eerbiedig in Swahili as Bwana aangespreek en jou vrou
as Memsahib. Die tipiese prentjie is dié van romantiese safari’s met swaarbelaaide
pakdraers, imposante herehuise versier met leeuvelle en bokhorings, eindelose tuinpartytjies
met jenewer en tonikum, swembaddens, tennisbane, perde en stringe eerbiedige
Keniane in kraakvars uniforms om jou te bedien, soos wat jy kan sien in die
rolprent White Mischief. Die Keniane aan die ander kant, voel toenemend
uitgebuit en misbruik. Hulle ondergrondse
weerstandsnetwerk groei stelselmatig, veral onder die Kikoejoe. Hulle verdeel
hulself in selle, elk met sy eie leier, wat gewoonlik ‘n eensgesinde hoofman
is. Hul strategie berus op die gevestigte tradisie van geloof in die
voorvadergeeste. Intimidasie  en
groepsdruk is deel van die werwingsproses. In die naam van patriotisme moet stamlede
‘n bloedeed aflê, wat met ‘n rituele offerande gepaard gaan.
As jy nie wil saamwerk nie, word jy as verraaier gebrandmerk en is jou lot
dikwels die dood. Die Britte noem hierdie opstandelinge die Mau Mau. Vandag
ontken kontemporêre Keniane dat daardie term hoegenaamd húl skepping is.

Op L’Agulhas woon een van die laaste
oorlewende Engelse “colonials” uit daardie era. Jeannie Machinnon (70), sê
rolprente soos White Mischief stel haar landgenote in  ‘n baie swak lig en is heeltemal oordrewe.
“Die meeste van ons was ordentlike, hardwerkende mense.” Sy en Jomo Kenyatta se
niggie was saam op skool en hulle het “soos kat en hond baklei.” Volgens haar
was  Kenyatta ‘n geslepe skurk wat ander
mense gebruik het om sy vuilwerk te doen. Sy vertel die Mau Mau het die kombuis-personeel
op die plase as mede-samesweerders gebruik. “Wanneer die tafelbediende die aandete
voorsit, moes hy die bord vol kokende sop in die landheer se gesig gooi. Dit
was die teken dat die wagtende aanvallers moes toeslaan. Hulle het die blankes
op die wreedaardigste maniere vermoor, asook mede-Keniane wat nie wou saamwerk
nie.” Maar volgens bronne was dit die hoogdrawende, meerderwaardige en
patroniserende houding van die Britse heersersklas wat die sweer laat bars. Die
opstand breek in 1952 uit. Plase word aangeval en diere vermink. Die eerste
setlaar word in 1953 vermoor. Brittanje kondig 
‘n noodtoestand af wat vir agt jaar in swang sou wees. ‘n Leër van 50
000 professionele soldate word ontplooi.
Daar word selfs bomwerpers teen die opstandelinge ingespan. Jomo Kenyatta word
tot nege jaar hardepad gevonnis, hoewel hy volhou dat hy nie die leier van die
Mau Mau is nie. Enigeen wat daarvan verdink word dat hy of sy bande met die Mau
Mau het of die bloedeed afgelê het, word na konsentrasiekampe verskuif. Daar
word hulle gemartel en in haglike toestande aangehou. Duisende kom om. Uiteindelik
word 32 blankes vermoor. Toe die Mau Mau opstand uitbreek, word Jeannie “vir
haar eie veiligheid” na Durban verplaas.

Volgens Hazel Kirk, wat uit ‘n vooraanstaande
Engelse familie uit Kenia na Suid-Afrika gekom het, is nie ‘n enkele Afrikaner enige
leed aangedoen nie. Jeannie Mackinnon onthou die Afrikaner nalentenskap in
Kenia goed. “Ek is byvoorbeeld in die NG Kerk in Nairobi gedoop! Daar was ‘n Afrikaner-boer
met  die naam Hoffie Retief. Sy familie
het van Laingsburg gekom en hy was ‘n
groot boer buite Nairobi. John de Villiers was ‘n joernalis vir die East
African Standard
en The Nation.” Die Keniane betaal  ‘n geweldige prys vir die vermetelheid om
hulle teen die magtige Engeland te verset: tussen 15 000 en 20 000 mans,
vrouens en kinders sterf aan die hand van die Engelse gewapende magte en die
Keniane se eie Mau-Mau vegters.

Kenia bereik oplaas in 1963 sy onafhanklikheid
met Jomo Kenyatta as eerste president. Daar is nog wild oor ja, maar hulle
getalle krimp steeds onrusbarend weens onbeteuelde bevolkingsaanwas en
gepaardgaande industrialisasie wat hele habitatte vernietig. Leeus is so gejag
dat hulle byna op die gevaarlys verkeer. Olifante met pragtige ivoortande word
al hoe meer van ‘n rariteit. Nairobi het ontaard in ‘n reeks kruipende
krotwoonbuurte sonder sanitasie.  Frik du
Preez was nog nie weer daar sedert hy die eerste en enigste keer daar agsteman
vir die Bokke gespeel het nie…Die lewe gaan voort.

Pierre Massyn
* Pierre Massyn is ‘n oud-joernalis en avonturier. Hy is die skrywer van
Springbokrugby-Vasvra.

Bronne:

www.sahistory.org/article/kenyan-timeline

www.history.com/this-day-in-history/kentatta-jailed-formau-mau-uprising

www.wikipedia.org/wiki/Jomo_Kenyatta

Voetnote

1. Die meeste mense onthou Frik as  ‘n slot, maar hy het sy Springbok-debuut as
flank gemaak op Avril Malan se 1960/61 toer. Hy het boonop ook die skopwerk
behartig en Engeland met een van sy skoppe gekelder!

2. Hierdie gebruik duur tot vandag toe
voort. In die naburige Tanzanië het die
skrywer ‘n vrou ontmoet wat van haar pa, ‘n hoofman, se kraal gevlug het toe hy
haar aan die misbruik wou onderwerp. Ek het selfs in ‘n hut op ‘n uitbeelding afgekom
waar die “operasie” in detail uiteengesit word. 

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.