Die jukskei- interskole kompetisie tussen Hawston Primêr en die Laerskool Mount Pleasant het verlede Woensdag op ‘n naelbytstryd uitgeloop met die eindtelling 76-74 in Hawston se guns.
Die beste meisiespeler was Chirnicwa Johnson van Mount Pleasant en die beste seunspeler was Frediano van Hawston. Die wedstryde, wat op die Groenberg-jukskeibane beslis is, is deur Niel Pedro, die hoof van Hawston, en Denver Adams, ‘n onderwyser by Hawston, bygewoon. Die spelers van Mount Pleasant is deur Henry Botha ondersteun.
Die jukskeispelers van albei die skole word al die afgelope drie jaar deur Len van Riel en Johan en Alet Theron van die Groenberg-jukskeiklub afgerig. Ander ervare jukskeispelers soos Willie Marais en Nicolaas en Lorette Aldrich het ook dikwels hand bygesit.
Die afrigters kon ná die wedstryd nie uitgepraat raak oor die goeie sportmangees van die skole nie. “Die spelers het soos dit altyd in jukskeitradisie gehandhaaf word, ligte verversings ná die wedstryde ontvang voordat hulle opgewonde vertrek het om by hul skole met hul prestasies te gaan spog,” het een van die afrigters gesê.
Die Groenberg-jukskeiklub is al geruime tyd besig om jukskei onder verskeie gemeenskappe te bevorder en jukskeispelers vir die jaarlikse IG-spele (Indigenous Games) voor te berei. Altesaam 12 hoër- en laerskoolspelers het in September in Kaapstad met groot sukses onder die vaandel van Overberg daaraan deelgeneem.





