Groot opgewondenheid het geheers toe spelers en bestuurslede van die Hawston Skrik vir Niks-rugbyspan, verteenwoordigers van Tekkie Town en die Boland-rugbyunie verlede week by Mount Pleasant Primêr opgedaag het om rugbytoerusting aan die skool te oorhandig.
Mount Pleasant is een van altesaam 31 skole in die Boland wat baat gevind het by Tekkie Town se ontwikkelingsprogram in samewerking met BRU.
Dié skool sowel as Hawston Primêr is deur die Hawston-rugbyklub benoem om toerusting te ontvang. Elke stel bestaan uit 10 rugbyballe, 20 waterbottels, twee houers om die waterbottels in te dra en twee verdediging-sakke. Elke rugbyspan wat aan die Top-12-kampioenskap deelgeneem het, kon skole in hul omgewing benoem om by die projek te baat.
Safcol van Grabouw, wat in 2023 as die Sanlam Boland-Top-12-kampioen aangewys is, het Kathleen Murray Primêr, die Hoërskool Grabouw en Pineview Primêr benoem.
Lincoln Johnson, SVN se ondervoorsitter, het beklemtoon dat dit harde werk verg om jou drome te bereik. “Almal het potensiaal. Julle kan ook uitblink soos Ashwin Willemse van Caledon en Gio Aplon van Hawston, wat al twee vir die Springbokke gespeel het, maar dit is nie maklik nie. Begin deur hard te leer, bly altyd nederig, behou dissipline en toon respek,” was sy woorde aan die leerders.
Marquine Lukas, ’n klubverteenwoordiger, het Hawston-rugbyklub bedank vir die feit dat hulle die skool vir die skenking benoem het en ook vir Tekkie Town vir hul bereidwilligheid om in die gemeenskap terug te ploeg. Die skoolhoof, Lincoln Wildschut, het al die rolspelers bedank en die versekering gegee dat die toerusting “met vrug” gebruik sal word.