Vandalisme en diefstal vier hoogty in Caledon.
Niks of niemand word ontsien nie. Gereeld lees of hoor ’n mens van vandalisme en inbrake by kerke, skole en sportklubs en van kabeldiefstal wat openbare instansies tydelik lamlê. En die oortreders lag in hul moue en kom weg met hulle misdade, want die meerder-heid van die gemeenskap is siende blind en horende doof.
Swartberg Primêr was oor Paasnaweek een van die jongste slagoffers van vandalisme.
Chris Delport, skoolhoof, vertel aan die Hermanus Times: “Ons het Vrydagoggend ’n oproep gekry dat daar weer by die skool ingebreek is. Drade van kameras is afgesny, toiletpotte en – bakke is uitgehaal en beskadig, en deure is met die oopbreek beskadig.
“Wat my verstand te bowe gaan, is dat ons ’n gemeenskapskool is en dit is wat sekere lede van die gemeenskap, wat op verkeerde dinge uit is, aan ons doen. Dis hartseer, want hulle besef nie die ongerief waarin hulle die skool plaas nie. Gelukkig kon ons die skade die Saterdag herstel, sodat ons nie na die lang-naweek sonder water en toiletgeriewe was nie. Weens die geknipte kabels is van die kameras nog buite werking.”
Hy het die beheerliggaam, opsigters en loodgieter bedank vir hulle vinnige optrede om die skade te herstel.
“Ons vra die gemeenskap om asseblief ons oë en ore te wees. Bel die polisie indien u iets verdags sien.”