Rugbyliefhebbers het die skok van hul lewe gekry toe ’n skoot onverwags ná die dag se wedstryde op 29 Junie tussen Struisbaai en Sea Hawks geklap het.

Die skieter was na bewering ’n ondersteuner en voormalige bestuurslid van die Sea Hawks-rugbyklub, wat tydens ’n onderonsie een skoot in die lug gevuur het.

Iemand wat die dag by die veld was, maar versoek het om nie sy naam te noem nie, vertel mense was reeds besig om die veld te verlaat toe die chaos losgebars het. Die plaaslike polisie en ’n veiligheidsmaatskappy wat op die betrokke dag ook diens by die rugbyveld gedoen het, is dadelik ontbied.

“Wat soek ’n mens met jou vuurwapen by die rugbyveld?” wou die toeskouer weet. “Mense kom rugby toe om die sport te geniet; hoekom dus ’n gevaarlike wapen veld toe bring?”

Die tuisklub, Struisbaai, het dae voor die wedstryd op sy Facebook-blad in ’n plasing gesê: “In samewerking met Uberwachtung en die plaaslike polisie verwag ons almal om die reëls te gehoorsaam vir die bevordering van sport in die gemeenskap.”

Die Sea Hawks- en Struisbaai-rugbyklubs het na aanleiding van die voorval op sosiale media verklarings uitgereik waarin hulle bevestig dat die voorval by Boland-rugbyunie (BRU) aangemeld is.

Die Struisbaai-rugbyklub se verklaring het dit duidelik gemaak dat die voorval na afloop van die wedstryde plaasgevind het en dat dit ook by die polisie aangemeld is.

Sea Hawks se mediavrystelling het gemeld dat die klub sy samewerking aan BRU sal gee om die klub se “naam en beeld te beskerm” en bygevoeg: “Die klub neem slegs verantwoordelikheid teenoor opbetaalde lede.”

Volgens die BRU val die aangeleentheid nie onder die unie se jurisdiksie nie aangesien dit na afloop van die wedstryd gebeur het.

Brigadier Donovan Heilbron, die adjunk-kommissaris van polisie in die Overberg-distrik, het bevestig dat die voorval ondersoek word. “Die polisie ondersoek twee klagtes – die rig van ’n vuurwapen sowel as die afvuur van ’n vuurwapen in ’n munisipale gebied. Die polisie het reeds bevestig die wapen is gelisensieer en behoort aan die betrokkene,” het Heilbron gemeld.

Hy het gesê die 42-jarige verdagte het op Maandag 1 Julie in die hof verskyn.

“Die saak is tot 16 Augustus vir verdere ondersoek uitgestel,” het Heilbron bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.