Volg van bladsy 1
Regter Allie het tydens die uitspraak gesê daar was geen bewyse dat Van der Rheede ten tyde van die aanval en moord in dieselfde kamer as die oorledene was of fisieke kontak met haar gehad het nie.
Volgens die beginsel, uit hoofde van gemeenskaplike doel (common purpose), het Allie gesê, is egter van toepassing aangesien hy medepligtig was aan October se planne.
“Die feit dat Beskuldigde 1 (Van der Rheede) nie tot die oorledene se redding gegaan het nie, sowel as die feit dat hy medepligtig was daaraan om die toneel te laat lyk asof daar ’n inbraak en roof was, was ontwerp om Beskuldigde 2 (October) se uitvoer van die moord te fasiliteer.
“Deur sy optrede het Beskuldigde 1 voorsien dat die oorledene vermoor sou word, hom daarmee vereenselwig en voortgegaan om hom aktief met Beskuldigde 2 se dade te versoen.
“Ek is oortuig dat Beskuldigde 1 (Van der Rheede) skuldig is op grond van gemeenskaplike doel,” het regter Allie gesê.
Die feit dat October nie in sy eie verdediging getuig het om getuienis teen hom te weerlê nie, het Allie gesê, het definitief teen hom getel.
“Dit het daartoe gelei dat die getuienis as voldoende bewyse geag is.
“Ek is oortuig dat die beskuldigde skuldig is.”. Vonnisverrigtinge het Maandag (17 Oktober) in die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad begin.
Die skuldiges word Vrydag (21 Oktober) gevonnis.