– Volg van bladsy 1
“Die polisie veroordeel alle misdade teen vroue en kinders ten sterkste. ’n Senior offisier het die interne ondersoek gelei. Die bevindings is aan die provinsiale kantoor gestuur en hulle sal beslis watter stappe geneem moet word,” het Heilbron verduidelik.
Lana O’Neill, stigter van Heavenly Promise, ’n organisasie wat hom beywer vir die beskerming van mishandelde en weerlose vroue en kinders, sê sake waar vroue die aanklagte teen hul lewensmaat terugtrek, is algemeen.
“Dit gebeur in die meeste gevalle. In die meerderheid van die sake is die manne psigopate wat goeie akteurs is en hul rol só mooi voor die polisiemanne en maatskaplike werkers speel sodat sy kant van die storie geglo word. Almal ken hulle gewoonlik as Mr Nice Guy,” verduidelik O’Neill.
“Die meeste van die tyd word die sake en interdikte teruggetrek, want die slagoffer wil nie in ’n hof teen die man getuig nie. Die ander probleem is dat hulle afhanklik is van die man en hulle is bang omdat hulle nie weet wat van hulle en hul kinders gaan word as die man moet tronk toe gaan nie.”
O’Neill waarsku ook indien die vrou herhaaldelik sake terugtrek en na die situasie terugkeer, kan dit tot ernstige nagevolge lei.
“Die mishandelaar sal begin om die vrou van ander mense te isoleer en die mishandeling kan later vererger, tot die punt dat hy die kinders begin mishandel of die vrou vermoor,” waarsku sy.
Daarom is dit belangrik dat die vrou so gou moontlik hulp kry om uit die situasie van mishandeling te kom.
“Maatskaplike werkers van die departement van maatskaplike ontwikkeling moet ook betrek word. Hulle sal dan die slagoffer inlig dat indien sy nie voortgaan met die saak nie, daar ’n moontlikheid is dat haar kinders uit haar sorg verwyder kan word omdat die Kinderwet bepaal dat kinders nie aan mishandeling blootgestel moet word nie,” verduidelik O’Neill.
Daar is slegs een plek van veiligheid vir mishandelde vroue en kinders in die Overberg en dit is Safe Haven in Bredasdorp, wat deur Heavenly Promise bedryf word.
“Indien slagoffers uit hul omstandighede wil ontsnap, sal ons haar en haar kinders na ’n plek van veiligheid neem, hetsy Safe Haven of ’n organisasie in Kaapstad,” sê O’Neill.. Slagoffers van mishandeling kan Heavenly Promise by 063 148 9690 kontak.