Slange soek kos

Pofadders is somerslange.


Pofadders is somerslange.

Dit is daardie seisoen van die jaar wanneer temperature styg en pofadders wawyd wakker is.

Slang se kind sal jou as ’n mens volgens die kenners egter nie pla as jy hom nie lastig val of per ongeluk laat skrik nie. Dit is egter beter om liefs niks aan die voorsienigheid oor te laat nie.  

Rudi Riek, een van Napier se baas-slangkenners, is verlede naweek juis weer ontbied om ’n yslike pofadder – volgens Rudi die grootste een wat hy nog gevang het – te kom haal.

Hy vertel hy het eintlik twee afsprake met poffies gehad – een in Napier self en een op ’n plaas in Caledon se rigting. Albei slange is suksesvol aangekeer, gevang en vrygelaat op ’n plek waar hulle niemand kan pla nie.

Volgens Rudi sal hy ná die onlangse brand in die berg opnuut moet soek na ’n geskikte bewaringsgebied waar die slange met toestemming vrygelaat kan word.

Ouer inwoners van die streek weet ook te vertelle dat die slange wat veldbrande oorleef het, soos dié wat van 9 Februarie af vir vyf volle dae in Napier se berg gewoed het, geneig is om ná so ’n brand elders te gaan kos soek. Inwoners van Napier hoef egter nie bekommerd te wees nie, want die dorp spog tans met ’n hele paar kundige slangvangers by wie om hulp aangeklop kan word as die nood sou druk.

Stephen Smuts, die eienaar van ’n fynbosplaas op die Napier-berg, het laat weet dat hy tydens ’n inspeksietog na afloop van die brand ’n hele paar onskuldige dooie skaapstekertjies sien lê het. Hy het egter nog nie op ’n giftige slang soos die pofadder – waarvan gewoonlik heelwat in die veld woon – afgekom nie.  

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.