Dit is somer. Dit is warm. Dit is slangtyd. Maar wat doen ‘n mens as jy dié onwelkome gas in jou tuin gewaar? Jy bel ‘n slangvanger of jou naaste polisiekantoor.
Die Hermanus Times het met AO Eduard Coetzee, sektorbestuurder van Caledon-polisie en bekende slangvanger, gesels oor wat ‘n mens moet en nie moet doen nie. “Die meeste mense skrik en hardloop weg, maar ‘n slang sal nie sommer na jou toe kom en jou pik nie. Die belangrikste is om die slang vanaf ‘n afstand dop te hou terwyl jy vir die slangvanger wag. Moet hom nie self probeer vang nie, jy kan moeilikheid optel. Bel my of jou naaste polisiekantoor.”
Coetzee noem dat alhoewel dit redelik stil die afgelope tyd is, is die algemeenste slange wat in dié gebied voorkom die Kaapse kobra, ook die geelslang of bruin kapel genoem, pofadders, boomslange en skaapstekertjies.Mense glo dat slange gewoonlik in pare voorkom, maar Coetzee noem dat dit eintlik ‘n mite is en dat hy bitter selde twee slange op een perseel teëgekom het, maar dat dit soms gedurende paartyd voorkom. “Slange is deel van die ekostelsel en hou rotte en muise weg. Moet hulle asseblief nie doodmaak nie. Wanneer ek slange vang, sit ek hulle in ‘n groot drom en laat hulle so 15 kilometer buite die dorp in die veld vry.”
Op ‘n vraag of hy al enige nabye benoude ervarings met slange gehad het, antwoord Coetzee:” Nie rêrig nie. Ek is baie versigtig. Daar is wel party plekke wat jy baie naby aan hom moet kom om hom te vang en dan moet jy maar heeltyd op jou hoede wees.”Coetzee, wat homself geleer het hoe om slange te vang, het nog altyd ‘n belangstelling in slange gehad.” Dis die King Cobra wat in Indië voorkom wat my belangstelling aangewakker het.”
Slange kom hoofsaaklik in die somer voor, maar Coetzee noem dat hy ook al by uitsondering een of twee slange in die winter gevang het. Hulle kom gewoonlik in lang gras of bosstruike voor, so dit is altyd ‘n goeie idee om gras kort te hou en nie te veel bosstruike te hê nie. Dikwels waarsku diere ook as daar ‘n slang teenwoordig is. Veral voëltjies sal baie raas as hulle ‘n boomslang gewaar. Dit is ook ‘n goeie idee om troeteldiere in die huis in te bring totdat die slang gevang is.
Nuttige nommers vir slangvangers in jou omgewing:
Caledon: AO Coetzee 079 493 9120
Botrivier: AO Paul Olivier 066 432 3752
Hermanus: Snake Removals Hermanus. Jonathan Powers 082 352 6000 (Powers het ‘n uitgebreide databasis en kan jou in kontak plaas met slangvangers in jou gebied.
‘n Nuttige app om op jou foon af te laai is: African Snake Bite Institute