Eindelik goeie wintereën vir die Wes- en Suidwes-Kaap!  En dit ná enkele uiterstes in die bolug, wat klaarblyklik deel is van die vermeende klimaatsverandering.  Eers sien ons die Atlantiese en Indiese hoogdrukstelsels soos twee ramme wat mekaar takel, maar albei staan skielik tru en skep een van die grootste reënfronte wat Weerhaan  nog gesien het.  Dit het behoorlik vanaf die ekwator tot voor die Suidpool se deur gestrek. Dit was die voorteken dat kwaai stormweer aan die kom is. Stel jou voor dat die Atlantiese hoogdruk met massiewe konveksie begin terwyl die Indiese hoogdruk dieselfde aan die oostekant van die land doen. Tussen die twee word koue lug van die Suidpool af tot diep in ons land  ingesuig.

Gister, (Woensdag) swig die Indiese hoogdruk en tuimel weg, maar ook met goeie konveksie, in die rigting van Australasië. Suid-Afrikaners wat sedert  gister stormvore gemaak en dakplate herstel het, moet dankbaar wees dat die oog van die front sowat 2 000 km suid van die land op stormsterk  losgebars het. Suid-Afrika kry inderdaad net ‘n ligte penshou van die front.

Die algehele weerpatroon vandag is vir ons spannetjie by iweather ’n bewys dat die droogteneiging nog op dreef is en dat, ten spyte van die damme wat  so mooi vol loop, ons steeds op groot skaal water moet bespaar en ontsouting op groot skaal oorweeg moet word.    Weerhaan verneem dit is wel aan die gang. Die meer as 30 mm wat die Overstrand vandag en môreoggend oor hul koppe kry, is min in vergelyking met die 50 tot 60 mm wat elders in die Wes-Kaap geval het.  Die storm was wel op plekke dalk “in ‘n teekoppie”. Ons sal moet wag om te hoor van skade. Wat ons  nie kan wegwens nie, is die koue wat Saterdagnag (oormôre) tot 8 of 9 °C kan daal. Sondag kry ons egter ‘n kersie op die koek met nog sowat 8 mm.   Ons kan dan ook weer sneeu op die Bolandse berg sien.

Ons sien van Dinsdag af weer volle son en die temperature kan bedags tot 23 °C styg wat verligting op die kragrekening vir hitteverskaffing kan meebring.  Veral in ouetehuise is die nood tans hoog weens geldskaarste (te wyte aan die Covid-19-pandemie). Weerhaan het enkele navrae gekry oor sonoonde wat hoog in aanvraag is, maar moet daarop wys dat sonoonde in die Kaapse winter nie ‘n baie goeie idee is nie.  Ons hoop maar die warm noordooste wind wyk nie.

 

 

You need to be Logged In to leave a comment.