Sowetodag – ’n oudjoernalis onthou

Sowetodag, het ons dit in die nuuskantoor genoem, “Pierre, vat vir Johan en gaan doen die storie”, kom die opdrag van die nuusredakteur. Johan Steyn kon toor deur ‘n lens, en soos alle SAUK TV-nuuskameramanne kon hy die hel uit ‘n Peugeot 504 ry.


Sowetodag, het ons dit in die nuuskantoor genoem, “Pierre, vat vir Johan en gaan doen die storie”, kom die opdrag van die nuusredakteur. Johan Steyn kon toor deur ‘n lens, en soos alle SAUK TV-nuuskameramanne kon hy die hel uit ‘n Peugeot 504 ry.

Ek het in 1977 by TV-nuus ingestap, dieselfde jaar wat ek klaar geswot het in Bloemfontein. Pas die vorige jaar was Soweto nog in vlamme, toe Suid-Afrika se politieke landskap onherroeplik verander is oor die studente-opstand.

Hulle was drie swaargewigte in die SAUK se topbestuur: Jan van Zyl, Kobus Hamman en Sakkie Burger. Al drie Broederbonders, maar hierdie feit was die laaste ding in my kop toe ek myself ongenooid in Van Zyl se kantoor in die hoë  gebou in Henleystraat, Auklandpark gaan voorstel het met die vae plan om dalk as TV-nuusman ‘n werk te kry. Hulle peper my met vrae. “Hoe sal jy as verslaggewer ‘n opstand weergee?” vra Hamman.  “Is jy objektief?” kom dit dit van Van Zyl? “”Kan jy gebalanseerd verslag doen?” is Burger se vraag. Burger, die broer van Staal Burger van Brixton-moord- en-roof, soos ek spoedig sou agterkom. “Jy moet net een ding besef, en dit is dat dit verantwoordelikheid verg om ‘n storie te dek wat miljoene mense se lewens direk raak”, word dit by my ingeprent. Ek stem met alles saam, belowe plegtig ek sal die waarheid en net die waarheid laat seëvier as hulle my sou aanstel…

Ek het dikwels in Soweto gekom vir stories.  Hier was ‘n skool beskadig, daar was ‘n vlagpaal met die vlag van die ou Suid-Afrika afgesaag. Nou en dan was daar op dagga en Mandrax-tablette op beslag gelê… maar daar was deurentyd  politieke ondertone. Die pot was aan die kook…

16 Junie 1978. Die Regina Mundi-kerk, Rockville, Soweto.  Ek en Roger Harris van CNN is die enigste twee wit gesigte. Steyntjie het prontuit gesê hy laat hom nie vermoor nie.  Dit sing en dans en skree en fluit. Die woede in die lug is tasbaar. Woede teen die wit heerskappy, teen Bantoe-opvoedig, teen die paswette. En ja, woede teen die Boer en sy taal, Afrikaans. Vandag sê ontleders soos professor Willie Estyerhuysen die ANC het die jeug in 1976 gebruik en dikwels misbruik vir hul eie politieke gewin. Op Monitor vertel Herold Pakendorf op 17 Julie 2016 dat een van die grondoorsake vir Soweto 1976 eintlik die verhoging van bustariewe in die Vaaldriehoek was. Maar toe was dit ek en Soweto…In Regina Mundi is daar ‘n priester in ‘n purper gewaad op die verhoog. Hy is die compare maar eintlik die aanhitser. “Amandla!” dreun dit dat dir kerkbalke antwoord gee. Die aanhitser maak ‘n skaars-merkbare gebaartjie met sy kop. Vir ‘n oomblik stop die gejil. Hulle gryp vir Roger Harris, ruk sy televisiekamera uit sy hand en pluk die films uit. Hulle boender hom by die deur uit. Nou is dit my beurt. Ek staal my teen die oormag. Ses fris jong mans druk my teen die kerkmuur vas. “We are in doubt about your identity”, vertel die hoofinduna my terwyl hy na my SAUK-TV ID-kaartjie met my foto op wys. Die bewyse teen my is verdoemend. Ek werk vir die propoganda-arm van die regering, die onderdrukker. “Get out now if you want to stay alive”, beveel hy my.  Onder luide toejuiging takel hulle my toe en marsjeer my by by die deur uit, stamp my in Mkizistraat in.

Ek skat ek was gelukkig. In daardie dae was Soweto ‘n geweldadige plek. Nie ‘n plek waar ‘n wit joernalis sommer sy gesig sou wys nie. Buite die kerk sit ander verslaggewers veilig in hulle karre, toegesluit, om die gebeure van ‘n afstand dop te hou. Ek klim in die Citizen se voertuig. Chris Olckers en ek was bevriend. Hy stop my ‘n bier in die hand. “Vertel, Pierre.” Chris maak sy notas. *

Nou borrel die massas uit die kerk. Hulle is kwaad. Hulle soek bloed. Soweto  verval in ‘n see van anargie. Casspirs, honde, traanrook en klippe. Sommer baie. Malende histeriese mense. Tonele soos in Apocalypse Now speel hulle voor ons af.. “Why are you rioting?” waag ek dit aan ‘n groep gillende jong meisies. “We want our land!” kom die antwoord.  Ek het toe al begin wonder of alles werklik oor Afrikaans gegaan het.

“Alle lede van die media verlaat die gebied nou”, bulder ‘n polisieluidspreker die volgende oomblik. In Afrikaans en Engels. Alles gebeur geweldig vinning, maar tog voel dit asof ek binne-in ‘n rolprent staan wat teen stadige aksie gespeel word. Langs my loei ‘n sirene, ‘n polisieman in kamoefleerdrag skop ‘n deur oop. ‘n Hond, ‘n Duitse herdershond, blaf skerp en aggressief. Seth Mazubuko vertel later dat die eerste wese wat in 1976 geweldadig gesterf het, ‘n polisiehond was wat die skare doodgeslaan het…

Ek het Soweto nie dadelik ontruim nie, was dalk te oorywerig in die uitvoering van my pligte. “Jy’s onder arres!” Vir die tweede keer daardie dag word ek gegryp, die keer deur polisiehande. Hulle prop my voor in hulle voertuig. Daar is ‘n lid langs my, nog een agter my. Die man agter my druk die loop van sy aanvalswapen teen my agterkop vas. Die adrelalien pomp. Hulle neem my na die Protea-polisiekantoor. Daar is wit en swart polisiemanne op ‘n gereedheidsgrondslag.  Hulle ondervra my. Maar ek hou een troefkaart. Ek ken Brigadier Jan Visser. Visser het die SAP se eerste amptelike Direktoraat van Openbare Betrekkinge gestig. Ek ek het Jan Visser op TV geplaas met ‘n onderhoud. Dit was my redding. Hulle laat my vry met ‘n waarskuwing.

Ek en Johan was laatmiddag betyds terug in Aucklandpark om die storie aan miljoene kykers  uit te saai. “Jy’t nogal guts”, sê Sakkie Burger.

Ek het rede om Sowetodag 1978 nooit te vergeet nie…

 – Pierre Massyn, oud-televisienuusverslaggewer. Bostaande is ‘n uitreksel  uit sy jongste boek.

 * Ingrid Pepler, verslaggeefster van Beeld, het  ook die betrokke insident gedek.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.