Spanne keer verdagtes voor

Die beamptes in die kontrolekamer was op hul hoede en het verdagtes in Hermanus vasgekeer.


Die Hermanus-veiligheidspanne of Hermanus Public Protection (HPP) soos dit bekend staan het verskeie suksesvolle inhegtenisnemings gemaak.

Kameraoperateurs was by twee van die voorvalle betrokke, vertel die takbestuurder van Hermanus se Fidelity ADT, Marius Boshoff. Woensdag 23 Februarie het die kringtelevisieoperateurs twee mans langs Swartdamweg sein stap. Nie net het die kameraoperateurs ‘n wakende ogie oor die verdagtes gehou nie, maar die patrolliebeamptes was ook op hul pos.  Volgens Boshoff is een van die verdagtes aangekeer omdat hy glo betrokke was by ‘n poging om ‘n kluis van ‘n wegneemete-restaurant te steel. Sy medepligtige het die beamptes ontduik.

Tydens die tweede voorval, 15 Februarie,  het die kringtelevisie-operateurs ‘n bekende huisbraakverdagte geïdentifiseer. ‘n Tweede persoon het by hom aangesluit en die mans se gedrag het agterdog by die operateurs gewek.  Een verdagte is vasgetrek en daar is huisbraak-gereedskap by hom gekry terwyl die ander verdagte op die vlug geslaan het. Vroeër dieselfde dag is nog ‘n verdagte in hegtenis geneem nadat hy in besit was van vermoedelik gesteelde goedere. Die HPP-beamptes het hom gevind met ‘n groot gordyn en slaapsak wat steeds hul pryse opgehad het.

“Welgedaan aan almal wat gehelp het met die suksesvolle inhegtenisnemings. Ek is veral beïndruk met die kringtelevisieoperateurs. Vir nog navrae skakel 0875505295,” sê Boshoff. 

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.