Die onlangse Bettysbaai-brand kon erger gewees het as dit nie vir spanwerk uit alle fronte was nie. Foto: Rick Marais


Die grootste deel van Bettysbaai se krag het kort ná 11:00 die afgelope Sondag afgegaan toe ’n substasie op Clarence-rylaan (oorkant die Caltex-vulstasie) ontplof het.

Dié ontploffing het veroorsaak dat ’n brand ontstaan het en die hele woonbuurt was gou vol rook. Die Overstrand se verkeersdepartement, in samewerking met verskeie veiligheidsmaatskappye, het die R44 gesluit en verkeer na agterpaaie soos die Bass- en Anglers-pad herlei. Drie helikopters (een van Working on Fire en twee van Leading Edge) was gou op die toneel en het die brand in bedwang gebring. Plaaslike inwoners was bekommerd, want dit was skaars drie jaar ná die groot brand wat Bettysbaai geruk het sowel as die feit dat die brand reg oorkant ’n vulstasie ontstaan het.

Volgens dr. Annelie Rabie, die burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, was dit spanwerk wat alles moontlik gemaak het. Die brandweer is deur plaaslike brandweerpersoneel in Bettysbaai ondersteun, wat die brand aan een front bestry het.

Een van die groot helde van die dag was Rodney de Bruin, ’n petroljoggie by Caltex in Bettysbaai, wat een van die eerstes was wat die rook gesien het. “Ek en ’n veiligheidswag het die stasie se brandblussers gegryp en tot by die brand gehardloop en dit heeltemal geblus. Ons het teruggestap en was trots dat ons ’n brand geblus het.” De Bruin, wat al twee jaar by die Caltex-vulstasie werk, se blydskap was egter van korte duur toe die substasie sowat 11:30 weer ’n blou vlam gemaak en toe heeltemal ontplof het, wat toe ’n groter brand laat ontstaan het.

“Ons het die regte strategie gevolg om die brand al vroeg met water te probeer blus, maar deur dié krisis staan twee dinge vir my uit – die eerste is dat ons ’n groot probleem met Eskom het, want inwoners in Bettysbaai sit soms vir dae sonder krag. Dis iets wat ek nou op ’n politieke vlak gaan takel. Tweedens moet ons (die Overstrand-munisipaliteit) asook grondeienaars beter pogings aanwend om erwe skoon te hou. Uitheemse plantegroei moet skoongemaak word. Mense moet nie laks word nie en onthou ons woon in ’n biosfeer-omgewing,” sê Rabie.

Teen Sondagaand het Eskom se manne op die grond nog gewag vir ’n nuwe substasie wat uit Kaapstad onderweg was. Teen Maandagoggend het sekere van die buurte in Bettysbaai elektrisiteit gehad, maar plekke soos Silversands en Stony Point was nog sonder krag.

You need to be Logged In to leave a comment.