Masizole Mnqasela en Dudley Coetzee, ’n raadslid, het kospakkies en skoolskoene aan leerders van Laerskool Okkie Smuts uitgedeel.


Die Wes-Kaapse speaker Masizole Mnqasela het vir groot opwinding gesorg toe hy as deel van sy verjaardagvieringe leerders by twee skole in die Overstrand bederf het.

Mnqasela, hoof van die DA se Overstrand-kiesafdeling, het soos die afgelope paar jaar sy gewoonte geword het, sy verjaardag in die gees van Ubuntu gevier deur geskenkies aan leerders van skole in die gebied te oorhandig.

Hy het Dinsdag 1 Maart by Mount Pleasant Primêr besoek afgelê, waar leerders hom verwelkom het deur “gelukkige verjaardag” te sing.

Lindile Ntsabo, die Overstrand- onderburgemeester, en die raadslede Charmaine Resandt, Arnie Africa, Ronald Nutt, Elnora Gillion en Steven Fourie van die Overberg-distriksmunisipaliteit sowel as die gemeenskapsaktivis Christine May het Mnqasela vergesel.

Mnqasela het ná ’n kort, inspirerende toespraak vir ’n aantal leerders wat deur die skool geïdentifiseer is, geskenkpakke met gesonde eetgoed sowel as ’n stukkie van sy verjaardagkoek uitgedeel.

Hy het ook Maria Pieterse se sopkombuis in Mount Pleasant besoek en broodnodige kruideniersware vir dié projek geskenk.

By Laerskool Okkie Smuts in Stanford het leerders die speaker met helderkleurige ballonne verras. Dié leerders, wat vooraf deur die skool geïdentifiseer is om deel van die vieringe te wees, het elk ’n kruideniersware-geskenkpak en skoolskoene ontvang. Die skoolskoene is uitgedeel as deel van Mnqsela se Shoes of Hope-veldtog in samewerking met Samaritan’s Feet SA en Youth4Life SA.

Deur middel van die Shoes of Hope- veldtog het Mnqasela al duisende pare skoolskoene aan leerders van verskeie skole oor die provinsie heen uitgedeel. Die speaker hou daarvan om deur middel van verskeie projekte by skole betrokke te raak aangesien hy glo dat opvoeding en projekte om gemeenskappe met kennis te bemagtig, ’n deurslaggewende faktor vir die vooruitgang van enige land is.

Hy verduidelik: “Die impak van die Covid-19-pandemie was moeilik vir almal, maar veral armer gemeenskappe. Die feit dat talle mense hul inkomste kwyt is, beteken dat hulle benodigdhede soos skoolskoene eenvoudig nie kan bekostig nie.

“Ons wil behoeftige leerders deur hierdie projek met die basiese benodigdhede help.”

You need to be Logged In to leave a comment.