Speel-speel geen tyd vir bendes

Unchain the Plain, ’n organisasie sonder winsbejag, het Caledon Saterdag 25 Junie besoek om sporttoerusting aan Deidre Michaels, of Coach D, soos sy alombekend staan, te oorhandig.


Unchain the Plain, ’n organisasie sonder winsbejag, het Caledon Saterdag 25 Junie besoek om sporttoerusting aan Deidre Michaels, of Coach D, soos sy alombekend staan, te oorhandig.

Ryan Crouse, een van die stigterslede van Unchain the Plain, vertel aan Hermanus Times: “Ons het in Tafelsig en Eastridge – twee van die gevaarliker dele van Mitchells Plain – grootgeword. Gelukkig het ons sport beoefen en dit het ons uit die moeilikheid gehou. Ons het opgelet dat kinders deesdae al hoe minder aan sport deelneem. Hulle raak betrokke by gangsterism en drugs en ons het toe besluit om ’n klein bydrae aan die gemeenskap te maak deur Unchain the Plain in 2018 te stig. Ons fokus is om sporttoerusting te versamel en in gemeenskappe of aan agtergeblewe skole te versprei.

“Ons gee onder meer rugby-, sokker- en netbalballe asook krieketkolwe uit, waarmee die kinders besig gehou kan word. ’n Kind wat speel het nie tyd of energie om by ander, verkeerde dinge betrokke te raak nie.”

Die ses lede van Unchain the Plain is almal besige professionele mense wat hul naweke afstaan om ’n verskil in jong mense se lewe te maak. Al die toerusting wat uitgedeel word, het die UTP- handelsmerk op. Baie van die balle is ingevoer en is meer bestand vir die omstandighede, soos grondpaaie, waar baie kinders daarmee speel.

Aanvanklik het hulle hulle op die Mitchells Plain- omgewing toegespits, maar gou besef dat ’n groot behoefte in ander gebiede ook bestaan en na hulle uitgereik. Hulle was al tot by Loeriesfontein met hul program.

Crouse verduidelik verder: “In elke gebied waar ons is, identifiseer ons ’n champion met wie ons werk en aan wie ons verdere ondersteuning gee. Ons het nou al 30 champions en in Caledon is dit Deidre Michaels. Sy doen geweldig baie vir die jeug van Caledon en ons wil haar verder help. Ons deel ons vaardighede met die champions en hulle moet aan ons terugvoer gee van events en foto’s daarvan deel.”

Coach D sê sy sowel as die kinders is baie opgewonde oor hierdie skenking. “Dit beteken verskriklik baie vir my en die kinders. In al die jare wat ek met kinders hier werk en hulle in verskillende sportsoorte afrig, het so iets nog nooit gebeur nie. Ek is baie dankbaar. Dit is soos ’n droom wat waar geword het.”

Unchain the Plain het nie net sporttoerusting geskenk nie, maar ook lemoene en peuselpakkies vir die kinders.

Crouse sê hoewel dit hul eerste besoek aan Caledon was, is dit gewis nie die laaste nie.. Unchain the Plain het openbare weldaadsorganisasie-status, wat beteken skenkings kan van die skenker se belasting afgetrek word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.