Hoe lyk
dit dan vir ons drie by iweather of die stoute virus nou ook dinge in die bolug
omkrap. Dit is veral die goedgelowige Langfaan wat daarop wys dat die bolug erg
deurmekaar is, maar plaaslik oor die Overberg en dele van die Oos-Kaap, staan
alles soos bliksoldaatjies botstil.
Buurman
sê prontuit hy vertrou nie die vrede nie – al sê die mense wat
klimaatsverandering bekyk daar is minder besoedeling in die bolug weens minder
verkeer op paaie. Bring hulle ook die besoedeling in armbuurte in rekening waar
kosmaakvure net hoër brand en op die talle plase waar uitgekapte wingerde op
hope gestoot en uitgebrand word?
Kyk ons na die lugbeweging van verlede week sien ons byna dieselfde
prentjie. Dit wemel nog rondom die suidpunt van ons land van sterk
hoogdrukke – en almal is presies op 1020 hP.
Wat vir Langfaan kommerwekkend is, is dat daar selfs in die Arktika ‘n sterk
hoogdruk van 1012 hP hang, wat deur die 1012 hp afgedruk word Suidpool toe.
Woensdag
(6 Mei) se aanduidings is dat daar regs van Gough-eiland geringe
konveksie is, maar dat al die vog ‘n goeie 2 000 km suid van die land
verlore sal gaan. Dit wil voorkom asof ‘n tweede sterk opkoms van koue lug uit
die Arktika die gevolg is van daardie stormweer.
Ander gevolge van die huidige stamp en stoot lugvloei is dat koue lug uit
die noordweste na die land toe stroom. Só kan ons verwag om vandag en
môre bewolkte lug en dalende temperature te beleef, wat baie mense in die Wes-
en Suidoos-Kaap op die verkeerde voet vang, wat warm komberse en klere
betref. En uiteraard in die hand van verkoues werk.
Ons
sien môremiddag volle son. Saterdagmiddag kan die temperatuur tot 24 °C styg,
wys die meterskatting, maar saans met sonsak is die koue lug weer terug.
Dit gaan tot Dinsdag toe so aan en weer eens (sê Langfaan) is dit die afgelope
drie weke presies dieselfde prentjie. Dinsdag kry ons heelwat vogtige lug uit
die ooste en kan daar ‘n bietjie vogtigheid, nie veel meer as erge dou, oor die
Overberg verwag word. Woensdag wyk die wolke en teen Donderdag sien ons weer
volle son, maar die klam aarde laat hom saans geld en sal dit saans weer hier
in die omgewing van 13 tot 14 °C daal.
Buurman
se tranedal, soos hy dit stel, is die skaarste aan winterplantjies soos
spinasie. Dit is so skaars soos hoendertande.