Die plek waar vermoedelik ’n sakspinnekop Eben Kotzé van Botrivier gebyt het.


Toe ’n spinnekop Eben Kotzé van Botrivier op 12 Februarie byt, het hy nie veel daarvan gemaak nie, want die bytplek op sy elmboog was net “effens jeukerig”.

Drie dae later was dit egter ’n ander storie, verte Kotzé aan Hermanus Times. “Die bytplek was baie seer en ek het duiselig begin voel. My buurvrou het daarop aangedring dat ’n ambulans my na die Caledon-hospitaal moet neem, waar ’n dokter die wond oopgesny het om van die onsuiwerhede ontslae te raak.

“Omdat dele van die vel al begin doodgaan het, is besluit om my na die Worcester-hospitaal oor te plaas, waar dit chirurgies verwyder moes word. Die eerste operasie was onsuksesvol en ek moes ’n tweede operasie ondergaan, wat wel suksesvol was.”

Kotzé moes twee weke in die hospitaal deurbring voordat hy ontslaan kon word. Hy sê die behandeling wat hy gekry het, was uitstekend. “Die dokters was baie goed – en die kos ook! As ’n gekwalifiseerde sjef het dit my opgeval.”

Die dokters vermoed die spinnekop wat Kotzé gebyt het, was ’n sakspinnekop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article