Ná twee jaar se sportdroogte weens die Covid-19-pandemie het die Overberg die afgelope naweek gegons van sportbyeenkomste.
Atletiekbyeenkomste is nie net by van die skole gehou nie, maar ’n vroue-sewestoernooi en ander vriendskaplike rugby- en sokkerwedstryde is in verskeie dorpe beslis.
Safcol-rugbyklub
Die hoogtepunt was seker die wedstryd tussen Safcol-rugbyklub van Grabouw se eerste span teen die sterk span van die Saldanha-rugbyklub wat by Hoërskool Grabouw se sportterrein plaasgevind het.
Die pawiljoen was vol en die ondersteuners het bankvas agter hul plaaslike span gestaan.
Dit was hittete of die span van Grabouw het teen Saldanha vasgeval. Die wedstryd tussen Safcol en Grabouw is deur klipharde rugby gekenmerk. Saldanha het van die begin van die wedstryd af die oorhand gehad, maar Safcol het nie tou opgegooi nie en die wedstryd uiteindelik 20-19 gewen.
Die giftige agterlyn van Saldanha het in die begin van die wedstryd aanval op aanval van stapel gestuur en vroeg reeds ’n drie gedruk. Safcol het egter nie op hom laat wag nie en nie net verdedig nie, maar ook aangeval, wat ’n bewys is dat die span oor diepte en wilskrag beskik.
Die Safcol-ondersteuners was die hele tyd op hul voete en hul spanne het hulle nie teleurgestel nie. Die eerste- en tweede span het die besoekers laat les opsê terwyl die derde span die knie teen Saldanha gebuig het. Die uitslae was:. Eerste span: Safcol 20-19 Saldanha. Tweede span: Safcol 7-0 Saldanha. Derde span: Sacol 12-14 Saldanha
Vroue-sewesrugby
Die Atlantics-rugbyklub was Saterdag die gasheer vir Boland-vrouerugby se sewestoernooi in Hermanus.
Met Coca Cola as hoofborg en die spelers wat dors was om weer mededingend te speel, is dit ’n bewys dat Boland-vrouerugby van krag tot krag gaan.
Nie net het die plaaslike spanne sake teen mekaar uitgespook nie, maar die spanne van Riverside, Busy Bees, Titans, Blue Jets en verskeie ander Boland se spanne het die geleentheid gekry om teen die Blitsbok-vrouespan en die span van Zimbabwe kragte te meet.
Volgens Paul Delport, nasionale afrigter van die Suid-Afrikaanse sewesrugbyspan, was dit die vrouespan se eerste toernooi in twee jaar.
Die spelers het hulle goed van hul taak gekwyt en al vyf wedstryde gemaklik gewen.
Volgens Delport het die toernooi hom meer insig gegee oor die spelpeil van sy spelers en hy kon weer sien waar die spelers tekortskiet.
“Die dag het stadig vir my spelers begin, maar op ’n hoogtepunt geëindig. Ek is baie trots op die vroue, want geen punte kon teen hulle aangeteken word nie.
“Die blitsige vleuel Ayanda Malinga het 10 drieë gedruk,” sê hy.
Volgens Malinga was dit weer vir haar lekker om ná twee jaar weer mededingende te speel.
“Dis lekker om weer ondersteuners te hê wat agter jou staan en jou aanmoedig,” het sy gesê.
Volgens van die vrouespelers van die ander spanne was dit vir hulle ’n eer om teen Suid-Afrika se bestes te speel en hoop hulle ook om eendag die Groen en Goud oor hul koppe te trek. Die uitslae van die Blitsbokke was as volg:. SA 41-0 Blue Jets. SA 43-0 Zimbabwe. SA 55-0 Titans 2. SA 48-0 Dames Wit.