Dit is ‘n sportnaweek wat in almal se smaak sal val – van klubrugby uit die boonste rakke tot krieket en pretlope.
Saterdag se Grootuitdaagbeker- wedstryde in die Overberg het eintlik geen verrassings opgelewer nie. Safcol het 36-0 teen Genadendal gewen terwyl Caledon ook 36-0 teen Riviersonderend gewen het. Die wedstryd tussen Botrivier en Bredasdorp Rangers was baie spannend, maar dis die span van Botla Fire wat op die ou einde die oorhand gekry en 39-33 gewen het.
Grabouw kon nie sy tuisveldvoordeel benut nie en Hawston Skrik vir Niks het die span 67-14 geklop. Volgens kenners en ondersteuners is Hawston vanjaar ‘n span wat dopgehou moet word.
Villiersdorp het korte mette met Kleinmond gemaak en 21-6 gewen terwyl Universals Stanford die Seahawks 14-8 geklop het.
Dié naweek se wedstryde is ook iets om dop te hou en speel Safcol teen die
Bredasdorp Rangers, Stanford Universals teen Genadendal, Caledon teen Grabouw, Botrivier teen Villiersdorp, Kleinmond teen Hawston en Sea Hawkes teen Riviersonderend.
• Dit is ‘n sport wat oud en jonk geniet en die agt-aan-‘n-kant-krieketdag gaan net soveel spanne en ondersteuners lok soos ‘n eendagwedstryd waar die Proteas die Australiërs aandurf. “Die PSC Cupboards-krieketdag word op 12 April gehou en is die laaste buitelug-kriekettoernooi van die seisoen,” het die organiseerders gesê.
Die toernooi word by die Hermanus- krieketklub gehou en die spanne wat gaan deelneem, is Taurus Structures Gladioators, KGA Royal Strikers, PSC Cupboards Titans, Kleinmond Crease Hunters, Hermanus Fireballs en Vibora Vipers Hermanus. “Elke kaptein het sy span gereed en ons weet die kompetisie gaan taai wees, maar bo alles gaan dit ‘n dag wees van lekker krieket, groot pret en ‘n gepaste afsluiting vir die somerseisoen. Dankie aan elkeen wat hierdie dag moontlik maak – van die spelers tot ondersteuners en ons borg PSC Cupboards,” sê die organiseerders.
• Die Skeepswrak-museum vier sy 50ste bestaansjaar en verskeie aktiwiteite gaan aangebied word. Een van die aktiwiteite is die pretdraf op 5 April by die museum. Die 5 km-pretdraf is vir almal en oud en jonk kan dit geniet. Die wedloop begin om 08:00 in Independentstraat, Bredasdorp. Skakel 028 424 1240 vir nog inligting.