Met haar sensitiewe vel en liefdie vir natuurlike produkte het Nicolene Gericke van Stanford Hills 23 jaar gelede die geloofstap geneem en Antjie’s Handmade Naturals begin.
Antjie’s Handmade Naturals is ‘n trots Suid-Afrikaanse bad- en lyfhandelsmerk en is nou in 34 Checkers-winkels oor Suid-Afrika heen beskikbaar. Nicolene vertel trots oor waar die inisiatief vandaan gekom het: “Ek het seep in my kombuis begin maak, want ek was op soek na ‘n sagte, natuurlike alternatief vir my sensitiewe vel.
“In 2002 het ek ‘n Nuwejaarsbelofte aan myself gemaak om my eie seep te begin maak – iets waarin ek reeds belanggestel het,” onthou sy. “Dit was iets prakties en iets wat ek regtig geniet het om te doen.”
Vandag gee Antjie’s vir 15 mense werk – van produksie en verpakking tot administrasie, kleinhandel en logistiek. “Die meeste van die werknemers is vroue, intern opgelei en betrokke by elke aspek van die onderneming – van ontwerp en bemarking tot winkelverkope,” sê sy.
Die onderneming ondersteun ook tot 50 vroue oor die Wes-Kaap heen wat met die hekel help en krale en handwerk met behulp van volhoubare materiale vir die verpakking maak. “Alles is handgemaak – van seep sny tot verpakking – en dit stel ons in staat om ‘n persoonlike aanslag in elke item te behou, terwyl ons werk en geleenthede vir vroue in ons landelike gemeenskap skep – een van ons belangrikste waardes,” sê Nicolene.
Nicolene het by Checkers se Klein, medium en mikro-ondernemings-program (KMMO’s) aangesluit en Antjie is in 2023 by 10 winkels gelys. Daardie getal het intussen verdriedubbel. “Ek kan met vrymoedigheid sê Checkers is ‘n kleinhandelaar wat werklik omgee vir die kleiner ondernemings en hulle was deurlopend betrokke by my onderneming – van tegniese ondersteuning tot praktiese lei-
ding – en het baie gehelp om my onderneming te laat groei tot waar dit vandag is.”
Haar produkte sluit in handgemaakte seep, boerseep, badsout, bruisballetjies, tee en die kenmerkende stortsakkies – seep toegedraai in ‘n lapagtige sakkie vir maklike gebruik en sagte afskilfering. Nicolene se seun, Christoff, speel ‘n sleutelrol in die verpakking: “Toe ons die stortsakkie geskep het, het ons gesien hoe vernuwing verkope kan dryf,” sê hy. “Ons ontwerp alles intern – tot by die 3D-vorms.”
Nicolene sê hulle is dol “oor wat ons doen en oor wat ons geskep het. Ons hoop ander voel dit wanneer hulle ons produkte gebruik. Ons is dankbaar vir hoe ver ons gekom het – en selfs meer opgewonde oor wat voorlê.”





