Heart FM se 16 Days for Youth-veldtog het verlede week behoorlik inwoners van Hawston se harte laat warm klop.
Die Heart FM-span, bygestaan deur verskeie sakevennote en vrywilligers, het Dinsdag 7 Junie by Krefies en Krappies-kleuterskool en nasorgsentrum gewoel en gewerskaf.
Terwyl sommige vrywilligers besig was om groente te skil, deeg vir vetkoek te knie en skenkings aan te dra, was ander besig om bestekopname te neem van wat Krefies en Krappies benodig en ’n paar ander het die skool se naam by die ingang geverf.
Aanbieders van die gewilde radiostasie het vanuit hul mobiele studio uitgesaai en aanhangers kon ook hul gunsteling-radiopersoonlikhede ontmoet en mee “selfies” vat. Luisteraars kon ook inbel en skenkings maak.
Dr. Ryan Müller, ’n tandarts van die Kaap, het in sy mobiele spreekkamer gratis ondersoeke vir kinders gegee en hulle meer oor mond-higiëne geleer. Hy het ook verskeie skole in die omgewing besoek om sy dienste gratis aan te bied.
Warren Theunis, Mr Barber SA, het ook sy dienste gratis aangebied. Die geur van heerlike koffie en ander warm drankies het ook gesorg dat mense in rye gestaan het by Cindy Samson van Made with Pride Coffee Bar en Thando Simayile se waentjie. Die twee baristas het gratis koffie aan al die vrywilligers voorsien.
Magda Meyer van Magda’s Soup Kitchen en haar span het ook hard gewerk om ’n heerlike maaltyd te bedien.
Heart FM se projekbestuurder, Denver Apollus, sê hul grootste taak is om mense wat ander wil help in verbinding te sit met organisasies en diegene wat hulp nodig het. “Dikwels het mense goed wat hulle wil skenk, maar hulle weet nie vir wie om dit te skenk nie. Ons taak is ‘to connect those dots’,” verduidelik hy.
Aden Thomas, aanbieder van die radiostasie se gewilde ontbytprogram, sê die 16 Days for Youth-veldtog het op 1 Junie begin en eindig Jeugdag (16 Junie). Kia-motorhandelaars het voertuie vir die uitreikprojek voorsien.
“Ons besoek altyd die Overberg tydens die veldtog. Van ons Kaapse luisteraars het noue bande met die plattelandse dorpe en ons wil graag kontak maak met ons luisteraars buite die Kaapse metropool,” het Thomas verduidelik.
Die span het Bereaville in Genadendal besoek waar hulle gehelp het om ’n kleuterskool op te knap.
Apollus verduidelik dat hulle ook gereël het dat ’n elektrisiën die skool besoek. Luisteraars kon ook krageenhede vir die skool koop en die koeponnommers via ’n spesiale nommer vir die span stuur.
Dit was Heart FM se derde besoek aan Hawston. “Ons wil nie hê dit moet lyk asof ons net in die dorp inwals en net weer uit wals nie. Ons kom weer terug en ‘check’ op op die projekte en of donasies wat belowe was, wel gerealiseer het,” sê Thomas.
Charmaline Johnson, Krefies en Krappies se hoof, sê sy was oorweldig toe die span van Heart FM haar ’n paar weke voor die tyd besoek het om die skool se behoeftes te bepaal.
“Baie dankie aan Linford Manuel en Catapult Foundation wat vir Heart FM na ons skool verwys het. Ek is baie, baie dankbaar vir wat Heart FM en almal wat betrokke was, vir ons gedoen het,” het sy bygevoeg.
Hoewel die span reeds die dorp verlaat het, kan mense steeds help om Krefies en Krappies te ondersteun deur skenkings by die skool in Kerkstraat, Hawston af te laai of Johnson by 071 524 5905 te kontak.