Elpida beteken hoop in Grieks.
En dit is presies wat die Elpida-stigting met sy onderskeie projekte vir die gemeenskap van Napier en omliggende gebiede bring.
Ná ’n baie suksesvolle projek in Desember waartydens hulle skryfbehoeftes ingesamel en toe vir meer as 500 kinders van die gemeenskap uitgedeel het, beoog dié organisasie sonder winsbejag nou om in Februarie, die maand van liefde, ’n projek aan te pak waarin die publiek gevra word om ’n brood te skenk, wat aan behoeftige gesinne uitgedeel sal word.
Abigail Damon, wat verantwoordelik is vir Elpida-stigting se bemarking en geldinsameling, sê: “As gevolg van die hoë werkloosheidsyfer sowel as die groot aantal enkelouers het Elpida-stigting die inisiatief geneem om die projek aan te pak.
“Die doel was om die meer as 500 leerders in Napier se harte bly te maak asook ’n bietjie verligting te gee aan sukkelende ouers deur ’n pakkie met skryfbehoeftes uit te deel. Die projek was ’n reusesukses te danke al ons borge en individue wat bygedra het. Elpida wil ook sy opregte dank uitspreek aan elkeen wat dit nie moeite geag het om die hand in die sak te steek nie.”
Met die “Skenk-’n-Brood-projek” nooi Elpida-stigting nie net alle inwoners van Napier nie, maar ook omliggende dorpe se inwoners om liefde en omgee aan behoeftige gesinne te toon.
Die organisasie se beroep is in ’n pragtige gedig verwoord:
In the month of love,
Ubuntu’s call
A shared heartbeat,
embracing all
Bread, a symbol of
life and care
A gesture of love,
in every loaf
May this month of love
connect us all in
Love, Peace and Hope.
“Hierdeur wil ons net weer eens ons gemeenskappe herinner aan die gees van ubuntu – liefde, omgee en hoop,” sê Damon.
Skenkings kan van 31 Januarie tot 29 Februarie by die organisasie se kantoor by Geelstraat 6, Napier, afgelaai of in ’n waentjie by Spar Bredasdorp gesit word. Stuur e-pos na ontvangs@elpidafoundation.co.za of skakel die kantoor by 028 001 0557 vir inligting.