Dit blyk dat inwoners van Vermont nou op hul hoede moet wees
aangesien daar verskeie klagtes by die Hermanus-polisie aangemeld is rakende misdaad
in die buurt.
Facebook het vanoggend (14 Junie) gegons oor ‘n vrou wat by
Geelvlinksingel gaan stap het en aangeval is. Verder het kaptein Fadila
September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, ook nog twee voorvalle
bevestig.
Tydens die eerste voorval was die slagoffer en sy vrou by
die huis toe hulle helder oordag aangeval is. Volgens September was die slagoffer
se vrou in die sonkamer en haar 74-jarige man besig om die plante buite water
gegee. “Die vrou het ‘n geluid buite gehoor en die volgende oomblik het haar
man die huis saam met ‘n onbekende man binnegekom. Die verdagte het hom in die
huis gedwing en die slagoffer het gebloei,” vertel September. Volgens haar het
die verdagte ook drie messe by hom gehad.
Gelukkig het die vrou die paniekknoppie gedruk terwyl haar
man met die verdagte in ‘n struweling betrokke was. Kontant is gesteel en die
slagoffer het mediese behandeling gekry.
In nog ‘n voorval wat oor die naweek gebeur was die slagoffer
en haar man die oggend by Breakfast Bay toe die gebeure plaasgevind het. Dié
voorval het omstreeks 10:00 Saterdag (11 Junie) plaasgevind toe die slagoffer
besluit het om ‘n entjie saam met haar kind te gaan stap terwyl haar man
visvang. Volgens September het ‘n onbekende man het uit die bosse gekom en haar
met ‘n panga gedreig en al haar besittings gesteel. “Gelukkig het ons iemand in
hegtenis geneem wat reeds in die Hermanus-landdroshof verskyn het, “ sê
September.
Volgens September moet die mense paraat wees wat
om hul aangaan. “Wees bewus wat in en om jou omgewing plaasvind. As daar
verdagte mense of motors in die omtrek is, meld dit dadelik by die polisie aan.
Moet ook nie alleen gaan stap nie,” sê sy.