Jan Braai se nuwe resepteboek, Atmosvuur.


Die braaimeester en die gesig agter Nasionale Braaidag, Jan Braai, het so pas sy jongste braaiboek, Atmosvuur, die lig laat sien. Die eindproduk is ’n behoorlike bielie van ’n Braaibybel, wat ’n moet is vir enige ywerige buitekok asook vir die nuweling wat die vuur wil bemeester.

Vanjaar is 20 jaar sedert Jan met Nasionale Braaidag vorendag gekom het met die doel om ’n geleentheid te skep waarop die hele Suid-Afrika om die vuur bymekaar kan kom.

“Op hierdie nasionale dag, op 24 September elke jaar, wapper ons as Suid-Afrikaners die vlag en vier ons ons gedeelde erfenis. Ek het ’n leidende rol in hierdie beweging gespeel; ek doen dit steeds en beplan om dit vir die res van my lewe te doen,” vertel Jan.

“Ons noem dit braai. Ek het die voorreg gehad om boeke te skryf en te publiseer, deur Suider-Afrika en die wêreld te toer vir die verfilming van ’n televisieprogram oor reis en kosmaak, en Nasionale Braaidag te bevorder. Ek het nou ’n skatkis vol braaikennis wat ek nie 20 jaar gelede, aan die begin van hierdie reis, gehad het nie. Dit het op ’n natuurlike manier oor die jare ontwikkel danksy dít waarmee ek elke dag besig is.”

Dus is Jan se Atmosvuur ’n uiteinde van 20 jaar se braaikennis wat Jan opgedoen het en met resepte en ervaring hiervan van oor Suid-Afrika en die wêreld.

Die boek is ’n skatkis vol kennis van elke aspek van kos oor die vuur maak – of dit op ’n rooster is, in die pot of foelie of selfs sommer direk bo-op die kole gebraai. En om presies te wees, behels dit 200 resepte vir die braailiefhebber.

Die boek bevat insiggewende wenke oor toerusting, allerlei metodes van kos oor die kole voorberei – voorgeregte, hoofgeregte, nageregte –tussengeregte en sommer lekker-eet-geregte.

Hier is een van die talle lip-lek-resepte in Atmosvuur en dit kombineer die beste van albei wêrelde – braai en potjiekos.Botter-tikkahoender

Daar is twee weergawes van “hoenderkerrie in ’n tamatieroomsous” wat in die wêreld se kospotte rondswerf: botterhoenderkerrie en hoendertikkamasala. Veranderlikes is goed soos die soort tamaties wat jy gebruik (pasta, puree of vars) of watter soort room (vars, klapper, ingedampte melk) ensovoorts. Met botterhoenderkerrie kry die sous boonop ekstra botter.

Jy kan die hoender marineer en braai voordat dit in die potjie gaan of dit in die potjie self braai. Net omdat die lewe swaar kán wees, beteken nie dit hóéf te wees nie, dit kan eerder heerlik wees. Hier is dus ’n beste-van-albei-wêrelde potjie waarin al die kennis en ervaring saam tot ’n enkele uitstekende maaltyd geprut het.

Jy benodig vir vier mense: . 800 g ontbeende hoenderdytjies of -borsies. 10 sosatiepenne

Vir die marinade: . 1 sopie medium kerriepoeier. 1 teelepel sout. 1 teelepel swartpeper. 1 koppie gewone volroomjogurt

Vir die potjie: . 1 ui. 4 knoffelhuisies . gemmer (in volume net soveel as die knoffel). 1 sopie olyfolie. 1 teelepel medium kerriepoeier. 1 teelepel fyn komyn. 1 teelepel fyn koljander. 1 teelepel sout. 2 pakkies tamatiepasta (altesaam 100 g). 125 g botter. 1 koppie vars room. vars koljander

Laat waai!1. Sny die hoender in hapgrootte stukke.2. Maak die marinade: Meng al die marinadebestanddele saam in ’n bak. Gooi die hoender by, meng deeglik en laat dit marineer vir minstens twee ure of oornag, indien moontlik. Ek gaan dit nie oral in die boek noem nie, maar wanneer dit voel na die regte oomblik, dan sal ek. Hier voel dit reg: Natuurlik moet jy die bak met iets bedek en natuurlik moet jy dit in jou yskas los. Gaan steek jou vuur aan.3. Maak die potjie: Kap die ui op. Kneus en kap die knoffel op en rasper die gemmer. Verhit die olie in jou potjie en braai die ui vir sowat vyf minute tot sag. Gooi die knoffel, gemmer, kerriepoeier, komyn, fyn koljander en sout by en laat dit so braai vir een minuut.4. Nou gooi jy die tamatiepasta by en braai alles vir nog ’n minuut of drie saam totdat jy kan sien die tamatiepasta begin karameliseer. Voeg dadelik die botter en room by en laat prut die potjie rustig.5. Ryg die hoenderstukkies op die sosatiepenne en krap die marinade wat oor is, by die pruttende potjie. Braai die sosaties oor medium-warm kole vir sowat 10 minute. ’n Swart kolletjie hier en daar is doodreg, dis net gekarameliseer.6. Haal die hoender van die sosatiepenne af en voeg by die potjie; laat dit dan vyf minute prut of tot jy gelukkig is met wat jy sien. Soos met alle potjies wat jy ooit sal maak – as dit ’n bietjie droog raak, gooi ’n leksel water by.7. Sit voor met vars koljander en die bykosse van jou keuse.

You need to be Logged In to leave a comment.