Die Trans Enduro is iets wat al só deel van die Overberg is soos kanola-lande en walvisse.
Dié uithouren, wat verlede Vrydag (25 November) begin het en sy 40ste bestaansjaar vier, samel geld vir die Militêre Akademie se Masiza-gemeenskapsprogram in, terwyl die studente ook langs die pad betrokke is by projekte vir maatskaplike impak, soos om strate en woonbuurte skoon te maak, skoolgeboue te verf en besoeke aan tehuise vir bejaardes af te lê.
Die Masiza-program fokus vanjaar op bejaardes en vroeëkinderontwikkeling. “Die hele oefening word beplan en uitgevoer deur die akademie se studente. Dit ontwikkel hul leiersvaardighede en verbreed hul begrip van die praktiese aspekte van gemeenskapsdiens. In ruil daarvoor leer die gemeenskap oor die hoë kaliber van jong manne en vroue wat vir die land se verdediging verantwoordelik is,” sê lt.kol. Morné Booÿjens, militêre hoofinstrukteur aan die Militêre Akademie en die deelnemers se mentor.
Nege spanne, waaronder ’n land-, draf-, fietsry-, media-, sein- en seespan, reis oor 10 dae van die Oos-Kaap na Saldanha en bly oor in dorpe oral met die roete langs.
Terwyl die fietsryspan ’n afstand per fiets aflê (100 km), reis die seespan al met die kus langs in twee rubberbote, en die landspan met voertuie van dorp na dorp om geld in te samel, terwyl die logistieke span gereed maak vir die ander spanne se aankoms. Die drafspan lê elke dag ’n afstand van 10 km af. Die spanne ruil by sekere punte om.
Dit is ook tradisie dat die burgemeester van elke dorp ’n kort brief van welwillendheid aan die burgemeester van die volgende dorp skryf. Die brief word aan die leier gegee, wat dit aan die burgemeester van die volgende dorp oorhandig.


