Suidoosterfees word mondig

Die Suidoosterfees word vanjaar mondig. Verskeie verrassings en hoogtepunte wag op feesgangers wanneer dié gewilde Moederstad-fees van 26 April tot 1 Mei by die Artscape-teaterkompleks aangebied word. Kaartjies kan vanaf 5 Februarie by Webtickets bes


Die Suidoosterfees word vanjaar mondig. Verskeie verrassings en hoogtepunte wag op feesgangers wanneer dié gewilde Moederstad-fees van 26 April tot 1 Mei by die Artscape-teaterkompleks aangebied word. Kaartjies kan vanaf 5 Februarie by Webtickets bespreek word.

Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die fees, sê: “Ons gaan dié belangrike mylpaal in ons geskiedenis onvergeetlik maak. Na meer as twee dekades is daar baie hoogtepunte waarop ons ’n glasie saam met feesgangers, kunstenaars, borge en vennote kan klink.

“Kaapstad, ons tuiste in ons hele bestaan, is vir almal ’n bestemming van hoop, en met feesaanbiedinge van uitstekende gehalte huldig ons graag ons weldoeners se waardevolle ondersteuning deur al die jare. Daarsonder sou die kunste in die Steentydperk vasgevang wees.”

NATi-teaterfees

Die NATi–teaterfees-program is propvol verrassings. ’n Splinternuwe dramaproduksie op die planke is Onder ’n bloedrooi hemel, Nicola Hanekom se verwerking van Annemarié van Niekerk se trefferboek oor liefde en geweld in Suid-Afrika. Dié publikasie is in Nederland met ’n gesogte literêre prys bekroon en het plaaslike lesers aangegryp toe die Afrikaanse vertaling verlede jaar vrygestel is.

’n Spesiale verjaardaggeskenk vir feesgangers, waarvan besonderhede eers in Maart amptelik bekend gemaak word, is ’n nuwe verhoogstuk deur Breyten Breytenbach wat spesiaal vir Antoinette Kellermann geskryf is. Met dié eenakter keer die 84-jarige ikoon van die wêreldletterkunde ná baie jare terug tot skryf vir die verhoog.

Sandra Prinsloo is te sien in Henque Heymans se nuwe verhoogdrama, Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan. Dié drama volg op Heymans se bekroonde debuut, Oom Bey.

Herschelle Benjamin en Reginald Hufkie se Op die kruin van Shôdeville met Kevin Smith, Hufkie en Donovan Pietersen, is ook deel van die Suidoosterfees. Dié drama handel oor Marvin, ’n man wat suksesvol in die vermaaklikheidswêreld is, wat terugkeer na sy tuisdorp, Schauderville, waar hy sy ou atletiekafrigter opsoek.

Gewilde dramas wat onlangs gehore by kunstefeeste en in teaters meegevoer het, maak ook ’n Suidoosterfees-draai: regisseur Nico Scheepers se briljante Braam en die engel; Pieter Odendaal se Droomwerk; Dana Snyman se Reünie met Frank Opperman, en Johann Slabbert se Routrip met Elzabé Zietsman.

Monsters, wat handel oor die moord op die Britse seuntjie James Bulger in 1993, onder regie van Tinarie van Wyk Loots, is ook op die program.

Ken jy vir Dewie?, ’n verhoogdrama oor ’n skoolskieter, met Crystal Donna Roberts, Robert Hindley en Joshwin Dyson in die rolverdeling, gaan gehore ook aangryp.

Die veelsydige Lizz Meiring is by die fees in Van die rak af, Quinton Stuurman is in Gesplete tong, en Ashraf Johaardien roep die verhoog vaarwel toe met sy optrede in Eg Kaaps: Salaam-stories.

NATi Jong Sterre

Ook op die NATi-teaterverhoog, is produksies deur vyf nuwe NATi Jong Sterre, wie se werk die afgelope jaar ontwikkel is deur die fees, NATi en die Jakes Gerwel Stigting. Dié nuwe stemme is Geralt Cloete, Cara Rossouw, Mikayla Joy Brown, Miché van Wyk en Miliswa Mbandazayo.

Kuier en Son

Die tydskrif Kuier gooi hul gewig agter ’n groot gospel-konsert, en die Kaapse koerant Son, wat vanjaar ook mondig word, bied ’n reeks heerlike laataand-konserte by die fees aan.

Opwindende debuutproduksies op die program is ’n sonderlinge kabaret, Karamonk, met Bianca Flanders en die weergalose Jemma Kahn as regisseur, en die skreeusnaakse musiekkomedie TWAK: Van Hunks, die Duiwel en ander twak deur Francois Toerien.

Jakes Gerwel-gesprekke

Die Jakes Gerwel-stigting en die ATKV is bekend vir die reeks kritiese gesprekke by die fees wat gewoonlik sorg vir koerant-hoofopskrifte.

Vanjaar is van die deelnemers aan die Jakes Gerwel-gespreksreeks Caster Semenya, Arthur Goldstuck, Sandra Prinsloo, Qaanitah Hunter, Mills Soko, Roelf Meyer, Francis Petersen, Nathan Trantraal, Diana Ferrus, Salim S. Abdool Karim, Angelique Coetzee, Phoebe Gerwel, Rachelle Greeff, Roy Havemann, Lyntjie Jaars, Marlene Mahokoto, Bernard Lategan, Dennis Cruywagen en Adriaan Basson.

Nog ’n gunsteling, Nataniël, is by die fees met die kleurvolle Ring van vuur propvol stories, kostuums, humor en ’n repertoire wat oor drie dekades strek.

Bogenoemde is slegs enkele hoogtepunte op die Suidoosterfees se 2024-program. Vir die volledige feesprogram, besoek www.suidoosterfees.co.za. Kaartjies kan vanaf 5 Februarie bespreek word by Webtickets, of skakel Artscape dial-a-seat by 021 421 7695.

You need to be Logged In to leave a comment.